Goeie EN slegte nuus oor beseerde pa en seun
Ma Tinkie Botes sê Baie Dankie aan almal wat vir Tolla en Barend bid

Vaalweekblad het vroeër die week berig oor die Botes-gesin van Vanderbijlpark, wat op 11 Februarie ernstig beseer is in ‘n fratsbotsing by die sirkel in Curie-boulevard en Langenhovenstraat.
Ma Tinkie en Sus Johanné (12) is al uit die hospitaal ontslaan, maar Pa Tolla (46) en Seun Barend (23) is steeds in die hospitaal.
Die slegte nuus is dat Tolla, wat nog in ‘n ernstige toestand in die waakeenheid van ‘n Albertonse hospitaal is, gister ‘n operasie moes ondergaan om twee van sy vingers af te sit. Die pinkie en duim van sy linkerhand is geamputeer en daar word gehoop dat van sy ander vingers wat ook aangetas is, gered sal kan word. Hy gaan moontlik ook een oog verloor, maar verdere nuus hieroor sal eers later die week bekend wees.
Die goeie nuus is dat lede van Vaalweekblad se webwerf en Vaalweekblad Facebook die afgelope twee dae al heelwat skenkings vir Barend in sy ma se bankrekening en op sy Back-a-buddy blad inbetaal het. Die insameling staan nou op sowat R24 000. Dit is al amper die helfte van die R60 000 wat benodig word om Barend by ‘n privaathospitaal te laat opereer. Hy moet ‘n dringende operasie aan sy ontwrigte skouer en gebreekte arm ondergaan. Hy is tans in Sebokeng-hospitaal maar die teaterwaglys is so lank dat hy nie gou daar geopereer sal kan word nie.
Ma Tinkie sê Baie Baie Dankie aan almal wat vir Tolla en Barend bid en ook ‘n Groot Dankie aan almal wat tot dusver hulle harte en hande oopgemaak het vir Barend. (Barend het maar pas ‘n week by sy werkgewer gewerk toe die ongeluk op 11 Februarie gebeur het, en hy het nog nie ‘n mediese fonds gehad nie).
Enigiemand wat nog bydraes wil maak sodat Barend na ‘n privaathospitaal toe oorgeplaas kan word vir die operasie, kan ‘n direkte EFT-inbetaling maak aan Tinkie Botes, Capitec, Takkode: 470010, Spaarrekening: 1768649152 of op sy Back-a-Buddy-blad, https://www.backabuddy.co.za/barend-botes-5541055950211027895.
LEES DIE VORIGE BERIG OOR DIE ONGELUK HIER: https://www.citizen.co.za/vaalweekblad/158428/vier-lede-van-gesin-eindig-in-hospitaal-na-fratsbotsing/
