Grote gat reggemaak na waterpyp bars
Besigheidsmanne moes alweer inspring en die munisipaliteit uithelp nadat waterpype op twee plekke in Louis Trichardt-boulevard moeilikheid gegee het.
VANDERBIJLPARK. – Maandag, 20 Maart 2023 het inwoners in die omgewing van die Louis Trichard-boulevard en Colonel Gordonstraat met ‘n geruis van baie water wakker geword. Buite. In hul huise was daar geen water nie.

‘n Groot pyp het op die hoek van die kruising gebars en water het met ‘n sterk stroom straataf gespuit. Waar die pyp in die teerpyp gebars het, het die water ‘n maalkolk gemaak en toe ‘n reuse gat gevorm.
Besigheidseienaar en sakeman, Mnr. Fanie de Jongh was vroeg reeds op die toneel. Die kruising was vir ‘n tyd lank gesluit vir verkeer.
Dieselfde dag nog het Mnr. De Jongh, saam met sy seun Fanie de Jongh (jnr) van Cars4U ingespring en die nodige masjienerie en werkers gehuur om die water uit die gat te begin pomp en skoon te maak.

Teen Donderdagmiddag, 23 Maart 2023 was die pyp herstel en die gat netjies toegegooi.
Mnr De Jongh snr het Vrydagoggend gesê, hulle wag nou vir die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit om die skade aan die teerpad te herstel.
“Ek gee hul drie weke, dan is ek terug van vakansie en ek hoop hulle het dan al iets gedoen. Dis ‘n skande dat ons as besigheidseienaars altyd moet inspring om hul werk te doen,” het hy gesê.
“Ongelukkig het ons geen ander keuse meer as om self in te spring en reg te maak nie. Besigheidseienaars moet besef, as die plek ten gronde gaan, gaan ons bates ook ten gronde.”
Mnr De Jongh was juis besig om toesig te hou oor die finale afrondingswerk aan die stuk teer oorkant die Palms Winkelsentrum waar daar al geruime tyd ‘n pyp gelek het voor JustCarz.
“Ek het hierdie pyp ook maar self laat vervang. Hierdie is ‘n besige straat en ek kan nie toesien dat dit verval nie.”
Mnr. De Jongh sê hy het Louis Trichard-boulevard aangeneem en maak seker dat die gras daar gesny is en die straatligte werk.
“Ons het reeds 40 ton se warm teer aangekoop en sal middel April begin om die slaggate in Louis Trichardt- en Piet Retief Boulevard reg te maak.”
Hy het ander besigheidseienaars gevra om ook in te spring en te help. “Ons moet ons dorp red. Dit help nie ons wag vir die munisipaliteit nie.
“As elke besigheidseienaar net voor sy/haar eie plek begin opruim en regmaak, sal dit baie help. Ons kan nie wag tot volgende jaar se verkiesing en hoop daar gebeur iets nie.”
