Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Wou net bly raak oor 'n onverwagse verbetering in die buurt, toe slaan die munisipaliteit ons met vreemde ingelse woorde en onverwagse duisternis. Lees meer...
RUBRIEK. – In die straat waar ons woon het daar vir baie jare eienaardige groot pale min of meer voor elke tweede huis gestaan. Massiewe goed. Toring hoog.
Die doel daarvan het ons oor die jare ontgaan. Die legende was dat dit eens op ‘n tyd straatligte genoem is.
Die konsep het ‘n vae klokkie in my brein gelui, maar niks waarop ek regtig my vinger kon plaas nie.
Jou wrintiewaar, verlede week stuur Ma vir my ‘n boodskap kantoor toe, “die straatligte brand”.
Wat? Kan nie wees nie! Ek wonder terstond of Ma helder oordag gesigte sien en haas my huis toe. In die straat kyk ek na bo en sjoe, dit lyk sowaar daar brand ‘n liggie daar bo êrens.
Ek vertrou nog nie de vrede nie. Kan die son wees wat terugkaats of dalk is my bril vuil.
Nadat die son sak, is Ma kort-kort by die voordeur: “kom kyk die straatligte brand.”
Ek loer op ‘n stadium na buite, en daar skitter die ligte geel tussen die boomblare deur.
Bly raak wou ek toe nog nie bly raak nie, want wat as die kabels binne die pale weer oornag wegraak?
Oor die naweek gaan maak ek ‘n draai by Liewe Vriend. Na sonsaktyd toer ek weer in die bekende donker strate af.
Wat ‘n mooi gesig toe ek die draai in ons straat vat. Ek trap summier rem en gryp die selfoon om foto’s te neem.
Dog eers dis die munisipaliteit wat uiteindelik, na meer as 10 jaar van donkerte in ons straat, wakker geskrik het, maar so via die WhatsApp groepe blyk die weldoener toe ArcelorMittal te wees.
Dankie. Baie, baie dankie! Gewoonlik word die CE- en CW areas vergeet as dit by verbeterings kom.
Hierdie week het die wonderwerk voortgeduur. Elke dag het daar bietjie meer straatligte in die CW1 area gebrand. Lekker man!
Ongelukkig het ‘n ander krisis van elektriese aard ons in dieselfde tyd getref wat ons vreugde oor die straatligte bietjie demp.
Het julle al van die begrippe “rotational blackouts” en “load reductions” gehoor? Ja, ek weet dis ingelse begrippe en ek het geen idee wat dit nou in Afrikaans sal wees nie.
Sien, die definisie daarvan het ek nog nie mooi agter die oor nie. Soos slegte sooibrand bly die begrippe opstoot in my keel en ek dink geen vorm van maagmedisyne gaan help nie.
Die twee volksvreemde begrippe is die nuutste belaglikheid waarmee die munisipaliteit vorendag gekom het.
Blykbaar het Town Sub (dis nou die algemene naam vir die Dorp Substasie) nie genoeg kapasiteit om die area van krag in die wintermaande te voorsien nie.
In plaas daarvan om iets aan die kapasiteitsprobleem te doen, dink die plaaslike owerheid toe die slim benamings uit en siedaar.
Hulle was hul hande in onskuld vir onverwagse, ongeskeduleerde en totaal tydlose kragonderbrekings.
Tussen Maandagoggend 08:00 en Dinsdagaand 22:00 het ons area alleen meer as 12 en ‘n half ure kragonderbrekings gehad.
Kla mag mens nie. Mening lug nog minder. Help in allegeval nie, want luister die doen hulle nie.
Wat help dit maatskappye en die gemeenskap bou aan die een kant op en die munisipaliteit breek af aan die ander kant?
Net sodra mens dink ELM se dienslewering kan nie verder versleg nie, dan gee hul nog ‘n paar reuse treë agteruit.
Hoe ver is dit na die volgende verkiesing en sal die geagte kiesers hierdie keer asseblief vir ‘n werkende, dienslewerende munisipaliteit stem?
Of bestaan so iets ook net in ‘n fantasiewêreld? Ek sê maar net.
