Een verdrink, nog een vermis ná voorval by Henley-on-Klip-keerwal
Een persoon se liggaam is uit die Kliprivier gehaal nadat twee mense glo die keerwal probeer oorsteek het. ’n Tweede persoon word steeds vermis.
HENLEY-ON-KLIP – Een persoon is vermoedelik dood en ’n tweede word vermis nadat hulle Donderdagoggend, 22 Oktober, naby die Kidson Weir in die Kliprivier beland het.
Volgens voorlopige inligting het twee mense die rivier probeer oorsteek toe een in die water beland het. Die tweede persoon het na bewering probeer help, maar het ook in die water beland.
Een persoon se liggaam is uit die rivier gehaal. Daar is volgens die jongste beskikbare inligting steeds na die tweede persoon gesoek.
Die presiese omstandighede van die voorval moet nog deur die polisie bevestig word.
Vaalweekblad het die Meyerton-polisie om kommentaar genader en wag op terugvoer.
Inwoners word gemaan om nie die keerwal te probeer oorsteek nie, aangesien dit lewensgevaarlik kan wees.
