Local newsNewsNews

Vaal se eie Kokkedoor, Pasch du Plooy

Maak nader kennis met die Vaal se eie Kokkedoor, Pasch du Plooy.

DENEYSVILLE. – In 2019 het hy die land aan die praat gehad met sy Kinkel-resepte gedurende kykNET se Kokkedoor-reeks.

Pasch du Plooy het daardie jaar ook met die louere in dié TV-reeks weggestap.

Sy liefde vir kosmaak kom al ‘n lang pad. Nadat hy aan die Hoërskool Transvalia gematrikuleer het, het Pasch vir drie jaar Wingerd- en Wynkunde aan die Universiteit van Stellenbosch gaan swot.

Pasch du Plooy op die stel van KYKnet se Kokkedoor. Foto: verskaf

In daardie tydperk het hy besluit hy wil sjef word en het hy by die Institute of Culinary Arts (ICU) se Spier-kampus ingeskryf.

Nadat hy sy opleiding as sjef voltooi het, het hy sy internskap in Franschhoek gedoen. Vir die volgende nege jaar het hy die mooie Boland sy tuiste gemaak en selfs sy eie restaurant oopgemaak.

In die tyd het hy ook sy vrou, Sainkie in Ceres ontmoet en saam maak die twee ‘n gedugte span.

“Met die tyd saam het die aantal restaurante in Franschhhoek bykans verdubbel. “Die restaurant het ons permanent besig gehou en dit was baie stresvol. Ons het toe die groot besluit geneem om ons weer in die Noorde te kom vestig,” vertel Pasch rustig oor ‘n koppie boeretroos.

In 2016 het hy saam met sy broers ‘n distilleerdery op die plaas, Oppermanshoogte oopgemaak. Mettertyd het daar ook ‘n restaurant gevolg.

Vandag is die De Vry distilleerdery ‘n gewilde bestemming vir besoekers van so ver as Johannesburg en Pretoria.

Na al die jare in die restaurantbedryf, was Pasch se passie vir kosmaak bietjie geblus. Dit was totdat sy vrou hom vir Kokkedoor ingeskryf het.

“Sjoe, dit was ‘n ‘massive’ ondervinding. Dit was so lekker om vir ses weke net te kon kosmaak. Ek het gegaan om dit net te geniet, om te wen was ‘n bonus,” lag hy.

Daarna was hy vuur en vlam om al sy ondervinding en resepte weer in te span. Wanneer die De Vry restaurant spesiale spyskaarte het, sal jy Pasch in die kombuis kry waar hy doenig is met voorbereiding.

Andersins is hy ook deel van die span wat onthale vir onder meer troues doen.

“Ons het ‘n goeie span. Ons berei alles by die restaurant voor en dan pak ons twee spesiaal aangepaste sleepwaens en vervoer ‘n hele kombuis na die bestemming. Daar slaan ons die hele kombuis op en gee ons beste vir die bruidspaar.”

Sainkie en Pasch du Plooy met hul honde. Foto: verskaf

Pasch en Sainkie is altyd aan die gang en selfs in hul vrye tyd dink en beplan hul nuwe projekte. Hulle probeer darem gedurende die wintermaande altyd wegloop vir ‘n welverdiende vakansie, miskien wildtuin toe of see toe.

Kersfees word saam met familie deurgebring en hul geniet dit ook om in die Kaap by hul vriende te gaan kuier.

Alhoewel hy sy werk baie geniet, is Pasch op sy gelukkigste as hy net tyd by die huis saam met sy vrou en hul drie honde kan spandeer.

“Dan braai ons en hou alles so eenvoudig as moontlik,” beduie hy. Hul honde Zerka, Zara en Zouku is hul hart se punt.

“Zouku is vernoem na ‘n kruiesousie,” lag Pasch, “dis ‘n bederfde enetjie daai,” som hy sy liefde vir die miniatuur Scottie op. Pasch is bekend vir die besondere sousies wat hy kan optoor.

Die ander twee honde is al redelik bejaarde Bouviers. Groot honde met sagte harte wat dit geniet as hul menspa by die huis is.

Dit gebeur nie baie nie, want die Du Plooys doen onthale regoor die land en is juis weer volgende maand op pad Plettenbergbaai toe.

Intussen werk hul ook aan spesiale okkasies by De Vry. “Ons het ‘n suksesvolle Franse Bastille Fees in Februarie gehou en nou werk ons aan ons eerste Oktober Fest,” vertel hy met ‘n vonkel in die oog.

Die gesprek in een van Vanderbijlpark se koffiewinkels word onderbreek, toe eienaar Marius Martins verbykom en Pasch erken.

“Maggies, ek het net nou die dag vir die eerste keer skaapkop by jou restaurant geëet. Dit was lekker, maar daai oog het my laat gril.”

Pasch lag lekker, hy is self nie baie lief vir die oog nie. “Dis lekker om terug te wees in my grootword dorp. Die mense is vriendelik hier,” glimlag hy en sug dan, “dis net jul paaie is baie besig.

“Ek is bly ek hoef nie elke dag die besige boulevard-kruisings aan te durf nie. Dis beter julle kom kuier maar by ons by De Vry waar jul net kan ontspan en vry kan asemhaal.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button