Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) doen ’n beroep op belastingbetalers wat nog nie hul belastingopgawes ingedien het nie om dit voor die sluiting van die 2026-belastingseisoen op Vrydag 23 Oktober te doen.
SARS het teen 30 September meer as 6,9 miljoen belastingopgawes outomaties geassesseer, 20% meer as die vorige jaar. Tussen 1 Julie en 19 Oktober het SARS ook terugbetalings van altesaam R33,15 miljard aan meer as 3,1 miljoen belastingbetalers gedoen. Sowat 85% van dié terugbetalings is binne 72 uur betaal.
Belastingbetalers kan hul opgawes deur SARS eFiling of die SARS MobiApp indien.
Laat indiening kan ’n maandelikse administratiewe boete van R250 tot R16 000 tot gevolg hê, afhangend van belasbare inkomste. Onbetaalde belastingskuld kan ook boetes en rente oplewer.
SARS-kommissaris dr. Johnstone Makhubu het belastingbetalers wat nog moet indien, aangemoedig om nie tot die laaste dag te wag nie.
Hy het ook belastingbetalers wat nie hul volle belastingskuld kan betaal nie, aangeraai om SARS betyds te kontak om betalingsreëlings te tref.
