Waar is die Vaal se Besigheidsbytjies?
Jong entrepreneurs (graad 1 - 12) hier is jou kans om jou drome vlerke te gee. Lees meer

Die tyd loop vinnig uit vir inskrywings vir die 2023 Besigheidsbytjies-kompetisie.
Hierdie is ‘n jaarlikse inisiatief van Akademia en die AfriForum Sakenetwerk om die jongspan aan te moedig om die entrepreneur in hulle te laat skitter.
Die kompetisie is oop vir almal van graad 1 tot 12. Kategorie 1 en 2 is vir die Hommelbytjies, naamlik die Grondslagfase en Intersenfase.
Dan is daar die Juniorpreneurs vir die die Senior fase (graad 7 tot 9) en VOO vir graad 10 tot 12.
Deelnemers kan ‘n besigheidsplan vir ʼn idee van ʼn besigheid of vir ʼn bestaande besigheid inskryf. Daar is heelwat kontant – en verrassingspryse op die spel.
Die kompetisie vind aanlyn plaas wat beteken dat entrepreneurs van dwarsoor die land kan deelneem.
Die Besigheidsbytjies-kompetisie het ook ten doel om die leierskap van die deelnemers te ontwikkel.
“Jong entrepreneurs word aangemoedig om self verantwoordelikheid te neem om hulle eie, unieke idees om te sit in innovering wat realisties en uitvoerbaar is,” sê Juanmarie Pretorius, projekkoördineerder by Akademia.
“Sodoende word hulle aangemoedig om ʼn positiewe verskil in die samelewing te bewerkstellig deur voorsiening te maak vir ʼn noodsaaklike behoefte of begeerte.”
Volgens Pretorius wil Akademia en AfriForum Sakenetwerk met hierdie kompetisie die nuwe generasie toerus met die kennis en vaardighede wat hulle nodig het as entrepreneurs.
“Ons kinders is die volgende generasie leiers – hulle moet hoop skep en reeds van jongs af werk aan ʼn nóg blinker toekoms!”
Inskrywings vir hierdie besonderse kompetisie sluit op 31 Mei. Vir meer inligting en om in te skryf besoek gerus hul webwerf by https://besigheidsbytjies.co.za/.
Die wenners van die Besigheidsbytjies-kompetisie word op 10 Julie vanjaar aangekondig.
