Ouma Loeloe word 97
Sy is in 1926 gebore en het op 6 Mei ‘n volle 97 jaar oud geword!
*Die storie het in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (19 – 25 Mei) verskyn. Kry ons gedrukte koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.
VEREENIGING. – Die Palms-aftreeoord (Fase 1) in Vereeniging se oudste inwoner, me. Anna Elizabeth Ferreira (97), het op 6 Mei haar 97ste verjaarsdag gevier en daar word gehoop dat sy oor drie jaar van nou af die 100 jaar-mylpaal sal haal!
“Ouma Loeloe” soos sy onder personeel en inwoners van die aftreeoord bekend staan, is in 1926 naby Bothaville in die Vrystaat gebore, en is nou die oudste inwoner wat dié ouetehuis nog gehad het.
‘n Spesiale verjaarsdagpartytjie is op Maandag, 8 Mei vir haar by die ouetehuis gehou, waar Ouma Loeloe met verjaarsdagkoek bederf is.

Ouma Loeloe onthou dat sy vir meeste van haar lewe ‘n hoërskoolonderwyseres was en vertel dat sy wiskunde as vak by hoërskole in Potgietersrus, Klerksdorp en later Vereeniging aangebied het.
Sy het na skool ‘n BSc-graad behaal en later haar nagraadse diploma in Hoër Onderwys voltooi.
Ouma Loeloe bly al vir bykans 23 jaar in die aftreeoord. Haar man, Ian Ferreira, is oorlede kort nadat hulle na die oord getrek het.
Al drie haar kinders, Lizette Ruddle (69), Petrus Ferreira (66) en Jordaan Ferreira (64) bly nog in Suid-Afrika.

Ouma Loeloe lyk nog verbasend goed vir haar ouderdom.
Sy gaan op die ouderdom van 97 nog elke dag vir ‘n stappie deur die oord.
Sy was tot ‘n paar jaar gelede nog redelik aktief en het tot op die ouderdom van 80 nog aan jukskei deelgeneem.
Joyce Mokomotoane (39), haar versorger wat al die afgelope drie jaar na Ouma Loeloe by haar selfsorgeenheid in die oord omsien, beskryf Ouma Loeloe as ‘n mens wat “stil en rustig” is.
“Sy is nie ‘n persoon wat te veel praat nie, ‘n eenvoudige en aangename mens wat min kla.”
Volgens Joyce blyk dit of ouma se gunstelling kos pap en eiers is, maar sy is nie heeltemal seker nie, want ouma kla nie eintlik oor die kos wat aan haar bedien word nie.




