Local newsNewsNews

Town Sub – donker winter wag op inwoners

Slegte nuus op slegte nuus vir inwoners in Vanderbijlpark wat afhanklik is van Town Sub vir hul krag. Lees meer...

VANDERBIJLPARK. – Vir die inwoners van onder meer CW1, CW2, CW3, CW5, CW6, Bophelong, Stephanopark en Bonanné wag daar ‘n moeilike winter.

Hierdie areas word almal deur die substasie, beter bekend as Town Sub, in Curie-boulevard van krag voorsien.

Dit is blykbaar die fondasie vir die nuwe transformator.

Town-sub is nie net een van die oudste substasies in die dorp nie, dis ook die een wat loshande die meeste probleme gee.

Onder normale omstandighede het die substasie drie 20 MVA transformators wat voltyds diens doen. Normale omstandighede inderdaad.

Probleme kom al ‘n lang pad

In November 2018 het een van die 20 MVA transformators ontplof en die inwoners vir amper twee weke sonder krag gelaat.

Verlede jaar het nog een gebrand. In ‘n stadium is ‘n kleiner transformator vanaf Drie Riviere gebring wat gehelp het om die druk effens te verlig.

Dit was tot die kleiner transformator verwyder is, want die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit (ELM) het met groot geskal via ‘n Facebook video op 25 Februarie 2022 aangekondig dat die probleme by die substasie se dae getel is.

Die MMC vir Basiese Dienste, rdl. Vincent Jones het self so ver gegaan om dit ‘n historiese dag te noem.

Daardie dag het hy gesê hulle gaan binne ‘n week begin om die substasie oor te doen en dat nuwe transformators geïnstalleer gaan word.

Die projek sonder einde

‘n Jaar en drie maande later en die probleme by Town Sub het vermenigvuldig.

Volgens ‘n verslag in Vaalweekblad se besit wat al in Januarie saamgestel is, maar eers op 6 April vanjaar voorgelê is, sou herstel- en opknappingswerk by Town Sub vanaf die 2021/2022 boekjaar begin het en oor drie jaar gestrek het.

Die hele projek sou R84 miljoen beloop het, waarvan R11 miljoen reeds in die 2021/200 boekjaar spandeer is.

Kontrakteurs is aangestel en twee nuwe transformators is bestel. Om so ‘n 20 MVA transformator te bou kan tussen 12 na 18 maande duur.

Alles was min of meer in plek dat die transformators in Junie vanjaar afgelewer sou word.

Dit was voordat Eskom en Randwater beslag gelê het op ELM se bankrekeninge en die kontrakteurs nie betaal is nie.

Na wat verneem word, het die oorspronklike kontrakteurs reeds einde Januarie onttrek en is daar met ‘n proses begin om nuwes aan te stel.

Intussen het die maatskappy wat die twee transformators gebou het ‘n ultimatum gestel, of hulle word ten minste R17 miljoen betaal (sowat 30% van die totale kostes) of hulle verkoop die transformators.

Woensdagmiddag is daar bevestiging ontvang dat ELM nie die transformers kon betaal nie.

Die hele proses moet weer van vooraf begin en dit sal meer as ‘n jaar duur alvorens Town Sub op 60 MVA kan hardloop.

Tans kan die substasie nie die groot area van krag voorsien nie. Die eensame 20 MVA transformator wat alleen die lading dra kan enige tyd ontplof en Vaalweekblad het bevestiging ontvang dat daar nêrens ekstra transformators van enige grootte meer rondstaan nie.

Dus, sou die laaste 20 MVA ook brand, dan sal die hele gebied wat deur Town Sub van krag voorsien word, vir weke sonder krag wees.

Daar is op die stadium geen maklike of vinnige oplossings nie. Die enigste manier om te probeer om die laaste transformator te beskerm is om die lading te verminder.

Daar is toe met ‘n baie onpopulêre oplossing vorendag gekom. Dit word beurtlading genoem.

En nou…. beurtlading

Anders as beurtkrag, word dit deur ELM beheer. Die substasie word gemonitor en wanneer die lading te hoog word, spesifiek vanaf 17:00 in die aande, dan word sekere gedeeltes afgesit vir vyf ure.

Met beurtkrag word hele areas afgesit, maar met beurtlading word die kleiner substasies afgesit. Die kleiner substasies voorsien sekere strate van krag.

Dit kan byvoorbeeld gebeur dat op een aand net die helfte van Fordstraat afgesit word of net ‘n gedeelte van CW2.

Die ander gedeeltes van die betrokke gebied word deur ‘n ander kleiner substasie gevoed en sal dus op ‘n ander aand ‘n beurt kry.

Die slegte nuus is dat beurtlading ten minste vir die volgende drie maande toegepas gaan word.

Nadat daar heelwat verwarring was oor watter area wanneer afgesit sal word, is ‘n nuwe vier-week skedule laat Woensdagaand versprei.

Hopelik word daar nou by die skedule gehou.

Mens sou natuurlik verwag dat met Town Sub onder soveel druk, dat daar 24 uur per dag gekwalifiseerde werkers by die substasie sal wees om ‘n oog te hou oor die lading.

Vaalweekblad was Maandag, 22 Mei daar. Daar was geen werkers nie, net maar een sekuriteitswag by die hek wat besig was om wasgoed te was.

Aan die binnekant van die substasie lyk dit baie soos ‘n rommelhoop. Die fondasie vir ‘n nuwe transformator is gegooi en laat staan.

Die kontrolekamer was toegesluit en die gat waar die transformator in 2018 ontplof het, steeds die enigste getuienis van wat gebeur as ‘n munisipaliteit nie meer omgee nie.

Vaalweekblad het ‘n skriftelike navraag aan ELM gerig wat nooit beantwoord is nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button