Valies maak GrootJol nog groter
Vaaldriehoekers is lief vir hul Afrikaanse musiek, dit het die GrootJol Saterdag, 20 Mei weer bewys.
VANDERBIJLPARK. – Afrikaans is Groot hou hierdie jaar ‘n GrootJol buitelugfees-toer. Daar is ses konserte wat deur die loop van die jaar aangebied word.

Een van die feeste het 20 Mei in Vanderbijlpark plaasgevind. Met 6 000 kaartjies wat verkoop is, was dit tot dusver die grootste fees van almal.
Wanneer die Vaaldriehoekers op ‘n ding besluit het, doen hul dit met oorgawe. Die hekke het om 11:00 oopgemaak en die mense het van vroeg af ingestroom.

Elkeen gewapen met stoele en baadjies vir later. Die verrigtinge het om 14:00 afgeskop met die jongmense se gunstelingsanger, Eloff.
Hy het die jongklomp dadelik aan die dans voor die verhoog gehad. Daarna het die kunstenaars vinnig na mekaar gevolg, van Samantha Leonard, Dodo Nyoka, Lianie May en Demi Lee Moore, tot by Karlien van Jaarsveld, Jay, Riaan Benadé, Appel, Ricus Nel en Bok van Blerk.

Daar is saamgesing en gedans en nie eers die snerpende koue later die aand kon die entoesiasme keer nie.
Dit was duidelik dat Afrikaanse musiek ‘n groot aanhang in die Vaaldriehoek het. Kleuters het op hul pa’s se skote gedans en bejaardes het toegewikkel in jasse en komberse met oorgawe geluister.
‘n Pluimpie vir Ruan Vermaak se plaaslike maatskappy, MagiCo SA wat Saterdagaand hul 2 000ste vertoning behartig het. Hulle het ook tot dusver elkeeen van die GrootJol-feeste se verhoogstruktuur, klank en beligting behartig.

Geen wonder Ruan is verlede jaar as die GTCoC se Junior Sakeman van die jaar aangewys nie. Die klank en beligting was puik en die grootskerms het tot vir die mense heel agter ‘n baie mooi en duidelike beeld gegee oor alles wat op die verhoog aangaan.
Dis lekker om te sien as ‘n plaaslike maatskappy so uitstyg. Hoop hierdie was nie die laaste Afrikaanse musiekfees in die Vaaldriehoek nie. Die Vaal is uitgehonger vir lekker en baie Afrikaanse musiek.
