Local newsNewsNews

VF+ man en rowers in oor-en-weer skietery in Meyerton betrokke

Die skote het Maandagmiddag in Lochstraat in Meyerton geklap toe rowers en 'n Vryheidsfront Plus lid van die Gautengse wetgewer op mekaar losgebrand het.

MEYERTON. – Toe die groep swaar gewapende rowers Maandagmiddag (29 Mei 2023) op ‘n juwelierswarewinkel in Lochstraat in Meyerton toegeslaan het, het hulle met die verkeerde man te doene gekry.

Kobus Hoffman, ‘n bekende Vryheidsfront politikus van Meyerton en kampvegter vir die regte van wettige vuurwapeneienaars, is ook die eienaar van ‘n wettige vuurwapen.

Hoffman is ‘n lid van die Gautengse wetgewer, dien op die provinsie se veiligheidsraad.

Volgens Abel die Klerk (59), eienaar van die Loch Street Manufacturing Jewellers, ‘n juwelierswarewinkel in Lochstraat, het twee mans wat hulself as klante voorgedoen het omstreeks 12:45 sy winkel binnegestap en later vuurwapens uitgepluk.

De Klerk het blykbaar albei die vuurwapens gegryp en die mans aan die vuurwapens binne die winkel getrek.

Hy het toe uit die winkel gehardloop, waarna die mans glo op hom losgbrand het.

Hoffman en sy kollega Pierre Wheeler, wat in daardie stadium in die Vryheidsfront Plus se kantoor in langsaan was, het die lawaai gehoor en ondersoek ingestel.

Hoffman en Wheeler, wat albei hul vuurwapen byderhand gehad het, het blykbaar om die muurtjie gestap gekom toe die rowers glo op hulle losgbrand het.

Abel die Klerk (59), eienaar van die Loch Street Manufacturing Jewellers, en lede van die polisie buite sy winkel. Foto: Christiaan Cloete

Ek het die oom van die juwelierswarewinkel hoor skee, hy het vir hulle weggehardloop. Hy het om die hoek gehardloop gekom en geskree.

Ek het uit die kantoor uit gekom en om die muur geloer, toe sien ek die ou staan vir ons en kyk.

Hy het ‘n vuurwapen gerig. Hy het op ons geskiet, maar die betonmuur getref.

Ek het toe teruggeskiet,” vertel Hoffman.

Wheeler, wat ook gewapen was, het ook skote op die rowers afgevuur nadat hulle eerste op Hoffman en Wheeler geskiet het

Blykbaar was die rowers met outomatiese aanvalsgewere gewapen.

Hoffman en Wheeler was met 9mm-pistole gewapen.

Koeëlgate in die muur. Foto: Christiaan Cloete

Op beeldmateriaal van die wit Mercedes-Benz voertuig waarmee die verdagtes op die vlug geslaan het lyk dit of ‘n paar van Hoffman en Wheeler se skote die voertuig getref het.

Die polisie van Meyerton het na die voorval beslag op Hoffman en Wheeler se vuurwapens gelê.

Volgens De Klerk het die rowers ongeveer 600 silwer ringe, sowel as al sy goue kettings gebuit.

Hy sê die twee klante wat by hom in die winkel was het nog al hul besittings.

Dit is blykbaar die derde keer wat daar probeer is om hom te beroof en hierdie keer het hul wel geslaag.

*Vaalweekblad verstaan die voertuig wat tydens die rooftog gebruik is word verbind met ‘n onlangse rooftog by die Vaal Mall. Ons wag nog vir amptelike terugvoer van die Meyerton-polisie en het reeds navrae aan konst. Tlaleng Moloi, ‘n polisiewoordvoerder, gestuur.

‘n Skermgreep van die video wat wys hoe die rowers skote op Hoffman afvuur. Foto: Verskaf
Dit lyk of ‘n paar van Hoffman en Wheeler se skote wel die rowers se voertuig getref het. Foto: Verskaf
Die winkel wat deur die rowers geplunder is. Foto: Verskaf
Die juwelierswarewinkel wat geplunder is. Foto: Verskaf

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button