Dinamiese duo droom, dink en doen saam
Ontmoet die dinamiese duo agter Peace of Mind, 'n skool vir kinders met outisme en disleksie.
VAALPARK. – Met die intrapslag weet mens hier word dinge anders gedoen. Daar is ‘n groot welkom bord teen die muur en springblokke op die paadjie geverf.
In die voorportaal is ‘n paar uitstallings wat die week se tema’s uitbeeld.
Teen die muur in groot blink letters: “Let’s create a world that works for everyone.”
Dis die Peace of Mind Centre vir leerders met outisme en disleksie. Dit het alles met ‘n droom begin.
Vyf jaar gelede het Monique Freislich en Leandri Hallatt besluit om ‘n skool vir kinders op die outistiese skaal te begin.
Beide was betrokke by ‘n spesiale skool en het later by dieselfde hoofstroom skool begin.

Albei het gevoel dat meer vir kinders met outisme gedoen kan word.
“Ons is almal anders. Net omdat iemand met outisme gediagnoseer is, maak dit daardie persoon nie dom nie. Die kinders hier is slim, hulle dink net anders. Ons leer hulle om die leemtes te vul, hulself en hul emosies beter te verstaan en te integreer,” verduidelik Leandri terwyl sy haar baba, Katie sus.
Dis nog iets wat die twee vriendinne in gemeen het. Hul seuntjies, nou vier jaar oud, verskil net ses maande en hul baba dogtertjies is ‘n maand uit mekaar gebore.
Oor die toevalligheid lag die twee lekker. “Dit was seker nie die beste beplanning nie, maar ons is daar deur en die sentrum groei mooi.”
Dat hul droom al vir vyf jaar ‘n werklikheid is, voel dalk vir die twee soms nog onwerklik.

“Ons het destyds ‘n besigheidsplan uitgewerk en in ‘n huis met die skool begin. Dit was nie ‘n baie groot huis nie, maar dit het gewerk,” onthou Monique.
Die sentrum is ‘n nie-winsgewende organisasie wat by onder andere die Departement van Onderwys en die Departement van Sosiale Ontwikkeling geregistreer is.
“Ons volg dieselfde kurrikulum as die hoofstroomskole, ons pas dit net aan vir ons leerders,” verduidelik Leandri.
In elke klas is daar ‘n maksimum van 10 leerlinge, in party grade selfs minder. Hier is elke kind individuele aandag op sy of haar vlak gewaarborg.
Hul vreugde was groot toe hul ‘n maand gelede uiteindelik na ‘n nuwe perseel kon verhuis.
‘n Heelwat groter perseel waar daar nou hard gewerk word om al die klaskamers eksie-perfeksie te kry.
“Ons is so dankbaar vir die gemeenskap en ouers wat net inspring en help. Onlangs het Sasolburg Blue Star met ‘n hele span ingekom om te help verf.
Dis duidelik dat Monique en Leandri ‘n passie vir die sentrum, personeel en kinders het.
“Die genade is groot. Maand na maand wonder ons waar die fondse vandaan gaan kom, maar as ons weer kyk, kan ons salarisse betaal en aangaan,” vertel hul dankbaar.
Nadat hul in 2019 die sentrum amptelik geopen het, het die Covid-pandemie in 2020 hard geslaan. Tog het die dinamiese duo dadelik plan gemaak.
Nie net het hul met aanlynklasse begin nie, maar hul kon ook salarisse bly betaal.
“Ons moes op ‘n stadium twee van ons personeellede afbetaal, maar dit was net vir twee weke, toe kon ons hul weer aanstel,” en die twee straal.
Met hul babas, Katie en Quinn, in hul arms werk die twee direkteure goed saam.
Wat die een vergeet, onthou die ander en al is daar werkers oral doenig, is die atmosfeer in elke klaskamer en selfs in die groot speelarea stil en rustig.
‘n Veilige hawe, ‘n stukkie gemoedsrus, ‘n tuiste vir die kleuters, juniors en seniors tot by graad 8 vir wie die wêreld daar buite soms net te veel stimulasie, lawaai en chaos bevat.
Hier kan hul speel en leer. Hier is elkeen spesiaal en leer hul hoe om hul eie unieke self tot volle potensiaal uit te leef, sonder om in ‘n blik gedruk te word en te voel hul is anders net omdat hul nie soos die meerderheid dink en voel nie.
