Riool stoot op uit verstopte dreine in Leeuhof
Inwoners van Leeuhof kla al langer as vier weke oor rou riool wat in hul erwe opstoot...
VEREENIGING. – “Daar gaan ‘n dag kom wanneer inwoners van Leeuhof die riool wat uit versopte dreine in hul erwe opstoot, in emmers gaan opskep en by die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gaan uitgiet…en daardie dag is dalk nie te ver van nou af nie…”
Dit was hierdie week die waarskuwing van Maria Malimbe, ‘n inwoner van Elandlaan in Leeuhof, wat gebuk gaan onder rioollekkasies in haar leefruimte.
Rou riool stroom uit ‘n verstopte drein op haar eiendom en dam in haar erf op.
Dit gaan gepaard met ‘n geweldige stank en die rioolwater wat by haar oprit afstroom. Verder af is daar riviere van riool in die strate en tamaai slaggate is besig om te vorm by die plekke waar die rioolwater opdam.
Naby ‘n ou hospitaal in die gebied lyk die pad so sleg dat inwoners die straat met klippe toegepak het.

Malimbe se bure, Johan en Hannelie Bëhr, sukkel met dieselfde probleem.
Volgens Hannelie het sy al foto’s vir al die raadslede van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit – die burgemeester, Sipho Radebe inkluis – gestuur, maar ten spyte daarvan word niks aan die probleem gedoen nie.
“Ek het reeds omtrent 20 boodskappe aan die plaaslike raadslid, ander raadslede insluitend die burgemeester, gestuur.
“Ek het al die gesondheidsdepartement geskakel en Metsi-a-Lekoa tel nie hulle fone op nie. Randwater sê vir ons dat hulle niks aan die probleem kan doen nie…” vertel Hannelie moedeloos.
Volgens haar man, Johan, is dit nou al die vierde week in ‘n ry wat dit so gaan, waar riool uit dreine uit opstoot.
Malimbe het ‘n verwysingsnommer aan Vaalweekblad getoon wat aan haar gegee is toe sy die probleem vir die eerste keer aangemeld het.
Dit was weke gelede.
Ten spyte daarvan voel inwoners die probleem word eenvoudig nie aangespreek nie.

Volgens Hannelie ontstaan die probleem telkens wanneer ‘n opgaardam buite die dorp vol raak en dit nie leeggepomp word nie.
Wanneer dit boonop swaar reën, verstop al die pype, insluitend die uitvoerpype.
By Marna Welgemoed van Oribiplaza in Leeuhof lyk dit nie veel beter nie.

Volgens Welgemoed stoot rioolvuil uit dreine, baddens, storte en selfs haar wasbak uit op. Sy meen dit is ‘n gesondheidsrisiko.
“Ek het ‘n broodplank in my wasbak gedruk sodat dat dit nie verder moet opstoot nie,” vertel sy moedeloos.
In haar erf is daar ‘n groot dam riool en haar karavaan en sleepwa is besig om in die riool-moeras weg te sink.
Vaalweekblad het ook van inwoners in Springhaasstraat, Turtlestraat, Rhinostraat, Elephantstraat, Springbokstraat en Kudustraat gehoor wat met dieselfde probleem worstel en blykbaar is die toilette van die gemeenskapsentrum ook verstop.
Vaalweekblad het Woensdag, 24 Mei navrae aan Makhosonke Sangweni, ‘n woordvoerder van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gestuur.
Hy het nie op navrae gereageer nie.

Prudence Hlanyane, raadslid vir Wyk 15 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, sê die situasie is frustrerend om die minste te sê.
Hlanyane het bevestig dat inwoners se klagtes reeds verskeie kere aangemeld is maar dat niks gedoen word nie.
Sy sê Metsi-a-Lekoa, Emfuleni se waterdepartement, is die mees nuttelose department in die munisipaliteit. “Dit maak nie saak hoeveel voertuie en gereedskap hulle ontvang nie, dit maak absoluut geen verskil op grondvlak nie.
“Hulle is ongelooflik selfvoldaan en blameer alles van verouderde infrastruktuur en Randwater tot die feit dat die munisipaliteit onder administrasie is.”
Volgens Hlanyane blyk dit of Metsi-a-Lekoa aspris nie probleme soos dié aanspreek nie, sodat hulle kan sê dat Randwater se ingryping ingevolge artikel 63 van die wet op waterdienste geen resultate lewer nie.


