Tegnologies geaard, humoristies bedraad
Riaan Greeff, die amateur radio entoesias wat lekker kan lag, is ook dosent met 'n meer as 'n handvol stokperdjies en belangstellings. Maak nader kennis met ZS4PR
VAALPARK. – Radio amateurs ken hom as ZS4PR, maar vir Suid-Afrika se scouts en ook die jong Voortrekkers is hy Oom Riaan, die oom met die super “cool” toerusting wat hul met tweerigting radio’s in verbinding bring.
Riaan Greeff het ‘n groot passie vir tegnologie, en in die amateur radio wêreld is hy alombekend.
Hy het ook al verskeie toekennings ontvang vir sy gemeenskapsdiens en toegewydheid. Een van die kamers in sy huis is sy heiligdom.
Hier sal jy radio’s, senders en verskeie projekte in wording vind. Teen die muur is ‘n kaart wat al die plekke aandui waar amateur radio entoesiaste hul wêreldwyd bevind.
Tans is hy ondervoorsitter van die Sasolburg Amateur Radio Klub, maar “ek was al alles by die klub, van voorsitter tot sekretaris,” spot hy.
Die man is lief vir lag en glo daaraan om altyd die sonkant van die lewe op te soek.

Soms wil sy twee dogters onder stoele wegkruip as hy die slag op sy stukke is. Soos die keer wat hulle vir ‘n Indiër vriend van hom se 50ste verjaardag Durban toe is.
“Leer ek mos toe by die groot partytjie om ook soos die Indiërs te dans. Lekker man, maar my dogters was nie beïndruk nie,” en hy lag weer van vooraf.
Was juis met daardie uitstappie wat hy iets gedoen het wat geen ander Greeff nog ooit gedoen het nie.
“Ons is die Sondag na uShaka Marine World toe en het die dolfyn vertoning gaan kyk. Soek hul toe iemand om na vore te kom en ek was weer voor in die koor. Daar kry ek toe ‘n soen van ‘n dolfyn,” en Riaan glimlag breed.
Riaan is in Umtata gebore, maar die gesin het op ‘n stadium in Theunissen en later in Vanderbijlpark gewoon voordat sy pa by Lethabo kragstasie begin werk het.
“My pa was eers ‘n polisieman en toe kry hy destyds een van die eerste sekuriteitsposte toe hul nog Lethabo gebou het,” vertel Riaan.
Daarna het Riaan sy laerskoolloopbaan by Vaalpark Primêr voltooi, voordat hy HTS Sasolburg toe is. By HTS kon hy sy liefde vir elektronika uitleef en het hy die hoogste punte in die Vrystaat vir tegnika elektronika gekry.
Na skool het hy sy B. Tech aan die voormalige Vaaldriehoekse Technikon behaal en sommer aangebly as dosent. Dis 26 jaar later en hy is steeds deel van die personeelkorps van die VUT.
“Ek het my stokperdjie my werk gemaak,” beduie hy tevrede. Dis vir hom lekker dat hy so ‘n groot impak op studente se lewens kan hê.
“Na 26 jaar het ek al duisende studente in my klas gehad en dis verblydend om hul weer na die tyd raak te loop en te sien hoe hul gevorder het.”
Self het hy sy studies vir lank laat skuinslê. Te besig gewees met ander dinge, maar hy het jare gelede as ‘n grap vir homself gesê as hy die jaar 50 word gaan hy sy meestersgraad voltooi.
“Wel, ek word hierdie jaar 50 en wraggies ek is nou besig met my meestersgraad deur die Universiteit van Johannesburg.”
Naas sy werk en amateur radio belange, is Riaan ook altyd by die een of ander gemeenskapsprojek betrokke.
Lumiére Primêr in Vaalpark lê hom na aan die hart. Nie net het hy vir jare in die beheerliggaam gedien toe sy dogters op skool was nie, sy vrou, Amanda is ook daar onderwyseres.
“Sy is die tech-savvy een in die skool,” vertel hy trots. “Sy het juis nou ‘n Robotics Klub by die skool begin en ek help haar gereeld met idees en toerusting, dis deel van my gemeenskapsprojekte.”
By die huis word daar nooit stilgesit nie. “Ag, jy weet ek dink nie ons Grefies is normaal nie,” lag hy weer lekker. “Ons staan sommer 02:00 in die oggende op, hou stiltetyd en begin met projekte.”

Hy en Amanda hou van dinge saam doen en ondersteun mekaar waar hul kan. “Ons sing nou al vir 15 jaar in ‘n plaaslike koor,” sê Riaan wat self lief is om ‘n kitaar nader te hark en musiek te maak.
Sy gunstelingkitaar is die elektriese een wat hy by sy oupa se broer geërf het. Van sy ander belangstellings sluit in fotografie en sterrekunde en dan gaan hy ook gereeld saam met die kerk op uitreike na die noorde van Namibië en Botswana.
Ek sien altyd kans vir ‘n nuwe ding. Ek sal eers ja sê en daarna gaan leer hoe om dit te doen, maar glo my, ek sal dit doen,” beduie hy.
“Jy weet, jy moet die lewe vir jouself lekker maak,” deel hy vir ‘n oomblik ernstige raad uit.
Dan breek die glimlag weer deur en sy oë skitter: “Die heel lekkerste ding in die lewe vir my is om my vrou en kinders te hoor lag.”
