Aktiewe pa word oornag blind – bid nou vir operasie
Die bekende akteur, Hykie Berg, kom op 1 Julie by Hoërskool Overvaal optree ten bate van Walter
VEREENIGING. – Dit is seker enige pa wat aan die hoof van ‘n huishouding staan, se grootste vrees: Om skielik blind te wees, nie meer te kan werk nie en van almal om jou afhanklik te wees om die mees basiese take te kan verrig.
Dit is teen dié terugslag wat Walter Futcher (39), ‘n pa van twee, te staan gekom het nadat hy oornag sy sig verloor het. Walter, ‘n gesinsman wat saam met sy vrou en kinders in Drie Riviere woon, was ‘n aktiewe man wat in die motorhandel gewerk het totdat hy een oggend opgestaan en besef het dat sy visie skielik baie wasig was. Van daar af het dit vinnig verswak totdat hy uiteindelik geen sig in sy linkeroog gehad het nie, en net 6% in sy regteroog – te min om sy normale lewe te kan voortsit. Hy kan nie meer werk nie, nie kar bestuur of draf nie, nie TV kyk, in die tuin werk of sy kinders met hul skoolwerk help nie.
Hy moes gewoond raak aan ‘n bestaan waar hy nou byna niks vir homself kan doen nie. Sy vrou, Marolette, finansiële areabestuurder vir die SX Group in Sasolburg, en sy twee kinders in graad 7 en graad 9 moes dadelik inspring om die take wat hy voorheen in-en-om die huis verrig het, oor te neem.
Weens sy gebrek aan visie het Walter nie net sy werk en selfstandigheid verloor nie maar ook sy mediese fonds. Die plaaslike oogkundige, mnr. Aadil Sujee, het Walter ondersoek en verduidelik hoe ernstig sy probleem werklik is. Weens lang waglyste sal Walter op die gouste eers in April 2025 by ‘n staatshospitaal gehelp kan word. Danksy vriende in sy kerk se omgeegroep kon Walter kontak maak met ‘n oogspesialis van Witbank, dr. John Graham, wat uitgebreide toetse op sy oë gratis gedoen het. Sy toestand het daarna ‘n naam gekry: Posterior subcapsular cataracts, wat baie seldsaam onder so ‘n relatief jong mens is. Walter het katarakte bo-op sowel as onder sy lense. Die katarakte bo-op sy lense moet verwyder word, dan die lense self, daarna die katarakte onder sy lense en uiteindelik moet hy dan nuwe lensoorplantings in albei oë kry. Die totale kwotasie vir albei oë is R74 000 en sluit alles in – die hospitaal, narkotiseur en spesialis.
Dit is egter ‘n bedrag wat die Futchers nie maklik alleen gaan bykom nie. Lede van die Goeie Nuus Kerk en die Kairos-omgeegroep in Drie Riviere, waarvan Walter en sy gesin as toegewyde Christene deel is, het besluit om hand by te sit en insamelings te reël. Een daarvan is ‘n spesiale optrede deur die bekende akteur, Hykie Berg, wat op 1 Julie om 14:00 by Hoërskool Overvaal as gasspreker gaan gesels oor “‘n Wereld sonder visie – ‘Blur’ jou lewe?” Volgens die organiseerder, die Kairos-omgeegroep, sal Hykie se praatjie nie oor die verlies aan fisiese visie handel nie, maar oor die gevolge as mens geestelik blind word.
Alle belangstellendes word hartlik uitgenooi om die geleentheid by te woon. Kaartjies kos R120 per persoon en verversings sal te koop wees. Vir meer inligting of om te bespreek, kontak gerus vir Bertie (082 822 8880) of Annette (083 951 3250).
* Mense wat nie die byeenkoms sal kan bywoon nie maar graag ‘n bydrae wil maak, kan ‘n EFT-inbetaling doen na Standard Bank, Rekeninghouer: A. McDonald, tjekrekening (current account): 10193925689, takkode: 014637. Verwysing: ‘Walter’ en jou selnommer.
Alle bydraes en uitgawes vir Walter se mediese prosedures sal geverifieer word deur die geoktrooieerde rekenmeesters Jordaan, Botha en Vennote.



