Emfuleni keur 6de onbefondsde begroting goed
Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit het Dinsdag vir die laaste keer sy sesde agtereenvolgende onbefondsde 2023/24-finansiële begroting goedgekeur.

Rdl. Gerda Senekal van die VF Plus in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit het vanoggend in ‘n mediaverklaring daarop gewys dat dit die laaste keer sal wees.
“Die provinsiale tesourie van Gauteng het aangedui dat geen munisipaliteit in dié provinsie voortaan ʼn onbefondsde begroting mag goedkeur nie”.
Die verklaring lui verder:
Emfuleni se onbefondsde begroting beteken dat daar geen einde in sig is vir inwoners se diensleweringsprobleme nie.
Inwoners gaan daagliks gebuk onder ladingverminderings, waterprobleme, vullisverwydering wat nie gereeld plaasvind nie en meer.
Emfuleni kan nie eers groot diensverskaffers soos Eskom en Randwater betaal nie.
Die munisipaliteit se enigste oplossing is nou om vir skuldverligting by die nasionale tesourie aansoek te doen.
Die volgende verhogings is deur die munisipaliteit aangekondig:
Water : 9.2%
Riool : 5.3%
Elektrisiteit : 15,65%
Vullisverwydering : 5.3%
Eiendomsbelasting : 5,3%
Die VF Plus het soos in die verlede nie die begroting ondersteun nie.
