Jong entrepreneur dink en droom groot
Ontmoet een van die Vaal se jong entrepreneurs wat altyd 'n plan b en c het en nooit opgee nie.
SASOLBURG. – ‘n Boer maak ‘n plan en ‘n entrepreneur het sommer baie planne. JF van der Merwe (24) is ‘n entrepreneur by uitstek.
Hierdie jongman laat hom nie afskrik as ‘n plan nie werk nie, hy dink eenvoudig net die volgende een uit en hardloop daarmee.
“Ek het nog altyd geweet ‘n 09:00 tot 17:00 kantoor werk en ek sit nie om dieselfde vuur nie,” vertel hy.
Hy vat die lewe met positiewe oorgawe aan en sien in alles ‘n geleentheid wat in ‘n besigheid omskep kan word.
“Verlede jaar met die aanvang van die winter het ek warmwatersakkies verkoop en dan verkoop ek ook ekstra dik swartsakke en lekker roomyse.”
Hy glo daaraan om anders te dink en dat jy kan geld maak uit dit waarvan jy hou.
“’n Mens moet kanse vat en nuwe goed probeer. Ek dink ons grootste probleem is dat ons geleer word om net op ‘n sekere manier te dink,” beduie hy.
“Ek glo weer elkeen moet leer om vir homself te dink.” Sy grootste mentor is een van die Vaal se bekende sakemanne, Gert Janse van Rensburg.
“Ons ruil baie idees uit en ek leer ongelooflik baie by hom”. Gert op sy beurt reken JF het baie potensiaal om ‘n verskil in die besigheidswêreld te maak.
Onlangs het JF ‘n nuwe aanlyn besigheid begin, Kiddies DIY. “Ek beplan om elke maand ‘n nuwe produk bekend te stel. Hierdie maand is dit die handverwarmers.
“Jy weet, kinders is mos heeldag op hul selfone. Wel, met die handverwarmers kan hul die kode skandeer op die pakkie wat hul by die instruksies op YouTube sal uitbring,” verduidelik hy.
Die instruksies verduidelik dan stap-virstap hoe om die handverwarmers self te maak. “Dit leer die kinders iets nuuts, is nuttig en dan sit hul ook nie net op hul fone nie.”
JF erken dat om ‘n entrepreneur te wees nie maklik is nie, maar hy geniet dit. Hy voel dat die Vaaldriehoek steeds een van die beste plekke in die land is met baie potensiaal.
“Ek dink net die besigheidsmanne moet meer begin saamwerk. As almal saamstaan kan ons hierdie area se volle potensiaal tap.”
Sy raad vir ander entrepreneurs is om nie op te gee nie. “Doen enige iets, êrens sal iets wel vlamvat en dan is dit einde niet. Wanneer jy jou eie pad loop, leer jy vinnig uit jou foute en jy leer om elke keer weer op te staan en aan te gaan.
“Ek het al hoeveel keer oor begin, maar ek sal nie ophou voordat ek nie daadwerklik ‘n verskil kan maak nie,” sê hy vasberade. Vir meer inligting, volg gerus sy Facebookblad by Kiddies DIY.
