Local newsNewsNews

Hoor die magtige dreuning

In Sasolburg het die gedreun van motorfietse MS-bewusmakingsdag aangekondig.

SASOLBURG. – Dit is nie aldag wat meer as 20 motorfietse gelyktydig in ‘n straat in ‘n woongebied afry nie. Wel, nie in Sasolburg nie.

Sommige mense kon nogal verbaas gewees het toe hulle vroeg Saterdagoggend, 27 Mei skielik die magtige dreuning hoor. Die bure moes seker geweet het ons dapper MS-lyer, Rozaan Steyn sit weer daaragter.

Kyk, as sy nie Tafelberg uitklim en met ‘n helikopter van die berg afgehaal moet word nie, dan loop sy maklik ‘n marathon met haar wandelstok Freddie in die hand, of sleep Vaalweekblad se joernalis saam op ‘n 7.35km staptog.

Regs: Op pad na die Ride for MS in Sasolburg.

Alles om bewusmaking van MS te skep. Saterdag was nie anders nie. “Wêreld Veelvuldige Sklerose (MS) bewusmakingsdag vind jaarliks op 30 Mei plaas. Ek het besluit om hierdie jaar iets anders aan te pak en het dit vir die 27ste beplan.”

Sy het so via ‘n vriend van ‘n vriend by Bobby du Toit, president van die Calvary Bikers Ministry, uitgekom. Na ‘n eerste ontmoeting tussen die Steyns en die Du Toits het Bobby belowe die motorfietsryers sal 27 Mei daar wees.

“Ek het gedink daar sal dalk so ‘n paar motorfietse opdaag. Hulle het al die pad van Johannesburg af gery, maar die verrassing was groot toe ek opkyk en die groep eers hoor en toe sien,” vertel sy.

Almal het by die Steyns se huis bymekaargekom alvorens daar sowat 5km verder na ‘n ander MS-lyer, Rinette Boers, se huis gery is.

Rinette is na buite gedra waar sy opgewonde al die bedrywighede en groot fietse aanskou het. Weens MS kan sy nie meer loop nie en is meestal in die bed, maar sy het gesê sy het Saterdag baie spesiaal gevoel.

Met hul aankoms het Dolf Binneman almal verwelkom, waarna dr. Saneth Dreyer ‘n bemoedigende boodskap gebring het. Die motorfietsryers se pastoor Dean van Niekerk het ‘n spesiale gebed vir al die MS-lyers en hul versorgers gedoen.

“Dit was regtig besonders. Op ‘n stadium het ‘n hele klompie om Rinette saamgedrom en vir haar gebid. Hulle het ook ‘n punt daarvan gemaak om vir elke MS-lyer te bid,” het Rozaan dankbaar vertel.

Nadat daar ook foto’s geneem is, is almal weer terug na die Steyns se huis vir vetkoek en ander eetgoed.

“Ek het self agter op een van die motorfietse gery. Sjoe, ek het goed vasgeklou,” lag Rozaan.

Dit was ook vir haar besonders dat elke motorfietsryer voor die tyd oor MS opgelees het.

“Hulle het reeds laat weet dat hul meer betrokke wil raak, ons moet net sê hoe, wat en wanneer.”

Die motorfietsklubs wat by die dag betrokke was, was Calvary Bikers Ministry, Central Bikers Church, Fly by Faith, The Riddicks, The Old Dirty Bastards en Blood in, blood out.

Vir meer inligting oor MS ondersteuning en bewusmaking in die Vaaldriehoek word deel van die MS Hoop groep op Facebook.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button