Local newsNews

Oupa Joshua se familie sal die mooi onthou … en glimlag

Hy was 'n dankbare soort mens, selfs toe ouderdomskwale begin toeneem het. Selfs sy laaste woorde was "dankie, dankie"

VANDERBIJLPARK. – Al word dié staaldorp dikwels as “lelik” beskryf, het dit ‘n mooi, warm hart wat gevorm is deur gewone mense wat dekades lank kosbare herinneringe hier help bou het. Een van dié mense was oom Joshua Haarhoff, wat op 22 April in die ouderdom van 93 na ‘n beroerte oorlede is.

Oom Joshua het Vanderbijlpark en die dorp se geskiedenis soos die palm van sy hand geken. Vir een van sy dogters, geskiedenisliefhebber Kobie Ströh, was hy nie net ‘n baie besonderse pa nie maar met sy geweldige uitgebreide algemene kennis, ook ‘n gewaardeerde bron van inligting. Vir sy kleinkinders was hy ‘n steunpilaar wat help plan maak het as hulle aangejaag het!

Joshua Haarhoff is op 6 Maart 1930 in Wynberg in die Kaap gebore, maar as seun van ‘n stasiemeester moes hulle gereeld verhuis, sodat hy uiteindelik ses verskillende laerskole in verskillende dorpe bygewoon het. Hy het homself reeds op 10-jarige ouderdom leer kar bestuur en van jongs af ‘n groot aanleg en belangstelling in voertuigenjins gehad. Hy kon op die ouderdom van 8 reeds sy pa se kar regmaak en sy belangstelling in motors, vliegtuie en treine het lewenslank gebly.

Na sy eerste poste by die koöperasie op Ceres en in die Weermag, kwalifiseer hy as vliegmotor-meganikus en teken ‘n 7-jaar kontrak met die Lugmag. Hy ontmoet die liefde van sy lewe, Kattie van Deventer, in Pretoria en die paartjie trou op 2 Mei 1953.

Enkele jare later verhuis hulle na die toe nog onbekende Vanderbijlpark, waar Yskor werksgeleentheid en behuising aangebied het. Met ‘n dogterjie van 2 jaar en enetjie van 3 maande daag hulle met ‘n geleende motor in die dorp op. Hul karige besittings, ‘n kombuistafel en bababed, op die kar se dak vasgebind. Aanvanklik was hulle effens onseker wat om te verwag, maar Vanderbijlpark was goed vir hulle. Oom Joshua het 33 jaar – van 1956 tot met sy aftrede in 1989 – toegewyd vir Yskor gewerk, onder andere as voorman by die suurstofaanleg en blaserhuise.

Hoewel hy by uitstek ‘n gesinsmens met ‘n groot liefde vir sy familie was, was hy ‘n introvert en op sy gelukkigste as hy net rustig kon luister na wat almal gesels. Stil en in die agtergrond, altyd gereed om te help – veral om die familie se voertuie in stand te hou totdat sy oë te swak geword het. Nuus op TV was die hoogtepunt van sy dag, en RSG sy getroue radiovriend wat hom tot in sy gevorderde jare ingelig gehou het.

“Pa Joshua het alles gebêre. Elke liewe proppie, sakkie, lintjie en blikkie vir die dag as jy dit nodig kry. Ek dink dit het gespruit uit die maer jare toe alles nog self gemaak moes word,” sê Kobie. “Hy het nooit lelik gepraat nie. Kru taal was taboe. Skinder was ook uit. Hy het ons gereeld herinner om ons goed mooi op te pas en krag en water te spaar. Oumense het hard gewerk om alles vir ons gerieflik te maak, was sy leuse.”

Hy was ‘n dankbare soort mens, selfs toe ouderdomskwale begin toeneem het. Selfs sy laaste woorde was “dankie, dankie”.

Oom Josua se troosdiens in die Gereformeerde Kerk Vaalpark, waargeneem deur ds. Dirk Kruger, was eenvoudig en sonder huldeblyke soos hy vooraf versoek het, met net een boodskap aan sy familie en vriende: “Moenie huil nie, moenie treur nie… Glimlag… En onthou die mooi!”

* Oom Joshua word oorleef deur drie kinders, sewe kleinkinders en dertien agterkleinkinders. Sy vrou het hom op 30 Desember 2019 na ‘n huwelik van 65 jaar ontval. Hul oudste seun is in 1978 op 18-jarige ouderdom in ‘n ongeluk oorlede.

 

Joshua Haarhoff en sy bruid, Kattie, op hul troudag in 1953.

 

Oupa Joshua saam met ‘n klompie lede van sy nageslag.

 

Joshua en Kattie Haarhoff in hul ouer jare.

 

Oupa Joshua saam met sy dogters en seun

Wyle mnr. Joshua Haarhoff.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button