Monique en Jan-Lodewyk wen troue van R80 000!
Op 16 September vanjaar gaan hulle die knoop uiteindelik deurhaak by die weelderige LORDS Signature Hotel in Risisville
In die drie jaar sedert Monique Marais en Jan-Lodewyk McLaggan op 5 Februarie 2020 verloof geraak het, het hulle behoorlik gespook om genoeg geld vir ‘n elegante droomtroue te spaar, maar dit sou nog lank net ‘n droom bly. En nou gaan dit ‘n realiteit word danksy Lords Signature Hotel, waar hulle ‘n spogtroue ter waarde van R80 000 gewen het!
“Ons is so dankbaar oor dié groot prys. Ons kan die Here nie genoeg dank vir hierdie seëning wat oor ons pad gekom het nie!”
Só sê Monique (23), ‘n student van Sasolburg, wat op 30 April saam met haar verloofde, Jan-Lodewyk (30), aangewys is as Lords Signature Hotel se wenners in ‘n trouewedstryd wat die afgelope maande groot belangstelling van talle verloofdes gelok het. Danksy hul wenprys gaan Monique en Jan-Lodewyk se droomtroue op 16 September vanjaar by die hotel in Risiville plaasvind. Dit is albei se eerste huwelik.
Jan-Lodewyk, wat vir ‘n aluminium- en glasonderneming in Drie Riviere werk, en Monique het vroeër vanjaar by haar sussie, Michelle, van die wedstryd gehoor. “Al was ons baie skepties, het Michelle ons aangemoedig om in te skryf en al die stappe te volg. Ons het almal saam gebid dat God ‘n weg vir ons sal oopmaak want Hy ken ons hartsbegeertes en Hy weet waardeur ons al alles is,” sê Monique.
“Ons emosies het hoog geloop die dag wat die wenners aangekondig is. Ons tafel by Lords Signature Hotel was vol familielede wat ons kom ondersteun het. Hulle het vooraf nogal gegrap en gesê hulle sou almal in die koue swembad inspring as ons wen. En toe word die finaliste bekendgestel: Eers die top 18, toe die top 10, die top 5 en die top 3. En toe hoor ons ons name as die wenners. Ons was sprakeloos en die trane het gevloei! En soos belowe, moes ons familielede toe swem! Dit was ‘n dag wat ek en Jan-Lodewyk nooit sal vergeet nie,” sê sy.
“Ons sien so uit na ons troudag… ek gaan trou met my beste vriend! Ons tel die dae, ure en minute af. Ons weet dit gaan ‘n amazing troue wees danksy Lords Signature Hotel en die borge. Al wat ons kan sê is dankie aan almal en ook aan God, want ons glo Hy het hierdie geleentheid uit genade vir ons gegun.”
* Lords Signature Hotel, wat die venue, spyseniering en akkommodasie beskikbaar gaan stel, bedank graag hul wedstrydvennote: Spectacular Events (MC, DJ & fotograaf), Crystal Designs Exclusive Events (décor), Drapes for Africa (drapering), Beloved Dress Hire (bruid se trourok), Eleganci Hair & Beauty (haarstilering vir die bruid en een bruidsmeisie), Mystique Make-up & Artistry (grimering vir die bruid en een bruidsmeisie), D’vida Wellness Spa (spa-bederf vir paartjie) en MooiVaal Media vir die bemarking.





