Seun (11) se fiets helder oor dag in Meyerton gesteel
‘n 11-Jarige seun se fiets is Sondag (28 Mei 2023), helder oor dag, in Meyerton se middedorp gesteel toe hy na ‘n kafee toe is om vir sy ouma te gaan krag koop.
MEYERTON. – Francois Joubert (11), ‘n leerder aan die Laerskool Republiek in Rothdene, het glo in die ry in die winkel gestaan toe ‘n verdagte sy fiets buite die winkel gesteel en doodluiters daarmee weggery het.
Francois se ma, Marine Joubert, het die afgelope week in ‘n boodskap op Facebook gevra dat mense wat die fiets sien of weet wie die verdagte is met haar in verbinding tree.
Die plasing is wyd op Facebook gedeel.
Marine is na die voorval na die Meyerton-brandweer se beheerkamer om te kyk of daar kringtelevisie-beeldmateriaal van die voorval beskikbaar is.
Op ‘n video kan mens sien hoe ‘n man doodluiters en ongeërg die fiets neem en daarmee wegry.
Marine sê wat haar byval is hoe rustig die fietsdief op die video voorkom.
Marine sê die fiets was ‘n ligpunt in haar seun se lewe gewees.
Hy het die fiets vir sy verjaarsdag gekry.
Dit is blykbaar die tweede keer wat sy fiets gesteel word.
“Hulle het sy vorige fiets by my ma-hulle gesteel by Mitchelstraat. Ek het gespaar en vir hom ‘n nuwe een gekoop. Dit was sy verjaarsdaggeskenk. Hy was erg oor die fiets. Hy het so baie gehuil. Ek het saam met hom gehuil. Mens werk hard om vir mens se kids te gee net sodat ‘n stuk drek dit kan wegvat, maar sy dag sal kom,” sê sy.
Mense wat die fiets gesien het, weet wie die persoon op die fiets is of dalk kan help met ‘n nuwe fiets kan vir Marine skakel by 078 841 1970.

