Comrades: 25 atlete gediskwalifiseer nadat hulle valse inligting verskaf
Dit sluit glo atlete van die Sasolburg Atletiekklub, Jozi X Training en Top Runners in.
PIETERMARITZBURG. – Altesaam 25 atlete wat Sondag aan die 96ste Comrades Marathon sou deelneem is gediskwalifiseer nadat dit aan die lig gekom het dat hulle valse inligting oor hul kwalifiserende marathon verskaf het.
Atlete moet vooraf ‘n standaard marathon (42.2km) in onder 04 uur 50 minute of langer wedloop binne ‘n sekere tyd voltooi om te kwalifiseer vir die Comrades Marathon.
Atlete moet voor die wedloop hul kwalifiserende tyde aan die Comrades Marathonvereniging deurgee.
Die atlete word dan volgens hul kwalifiserende tye in verskillende groepe opgedeel.
Dit bepaal ook die volgorde waarvolgens atlete wegspring, met die vinnigste atlete voor en die stadiger atlete agter.
Volgens ‘n verklaring wat deur die Comrades Marathonvereniging uitgereik is sal die atlete wat valse inligting verskaf het geskors word, wat beteken dat hulle nie aan vanjaar se Comrades Marathon, en ook nie aan die Comrades Marathons van 2024 en 2025 sal kan deelneem nie.
Rowan James, wedloopdirekteur van die Comrades Marathon, sê: “Atlete wat bedrieglike inligting verskaf het, hetsy deur die indiening van vals kwalifiserende besonderhede of in die wedloop self gekul het skend die reputasie van die sport en die Comrades Marathonvereniging.”
“Hulle minag ook hul mede-atlete,” meen James.
Volgens die Comrades Marathonvereniging is die geskorste atlete van verskeie klubs insluitend die Sasolburg Atletiekklub, Top Runner Atletiekklub, Jozi X Training Atletiekklub, Phuma KZN Atletiekklub, Protea Striders, Save Orion, Celtic Harriers, Chillie Running Club CG, Chiltern Atletiekklub, Collegians Harriers, Diekloop Atletiekklub, Irene Atletiekklub, Run Walk For Life (Noordwes), Run Zone Atletiekklub, SAPG Atletiekklub, Sunward Striders Atletiekklub, Team Vitality Klub (KZN), Thorn Tree Striders, en Woodview Atletiekklub.
Die Comrades Marathonvereniging het reeds die atlete en die bestuur van hul klubs laat weet.
James waarsku: “Die Comrades Marathonvereniging sal nie kullery in enige vorm duld nie. Dit is elke atleet se plig om die etiese kode en etos van die sport te eerbiedig. Ons bevorder regverdige sport en gaan om hierdie rede voort met ondersoeke na ander beweerde oortreders, waarvan die uitslag mettertyd bekend gemaak sal word.”
