Langasems van Vaal hou Golden Oldies reünie
VANDERBIJLPARK. - Wanneer 135 voormalige atlete van die plaaslike atletiekklubs (1970 tot 1999) opdaag om saam te kuier, verdien elkeen teenwoordig 'n goue medalje.
‘n Spesiale reünie is onlangs vir voormalige langasems van plaaslike atletiekklubs gereël en die geleentheid was ‘n groot sukses.
Dink net aan al die lekker staaltjies wat gedeel is en soete herinneringe wat weer opgedelf is. Dan was daar natuurlik die ekstra spesiale gaste van die dag – die 80 jaar en ouer atlete.
Onder hulle tel atlete soos Athur Doyle, Ampie Hattingh en Faan Schoeman, om ‘n paar te noem.

“Deur die jare was daar soveel prestasies en hoogtepunte deur plaaslike atlete dat alles nie genoem kan word nie, maar dit was lekker om van die hoogtepunte weer saam te kan onthou,” sê Louis Harmse wat die geleentheid moontlik gemaak het.
Die 10 atlete wat werklik verdien om uitgesonder te word is: Johnny Coleman, Manie Saayman, Sam Tshabalala, Louis Harmse, Deon
Holtzhausen, Henk Watermeyer, Marietjie Ceronio, Malie van der Walt en Ernest Tjella.
Almal het van heinde en ver gekom om die dag te deel en herinneringe weer op te roep en het dit baie geniet. Vier skape is gebraai en almal het lekker saam geëet en gekuier.



