Vlytige Vingers skenk gebreide komberse
Vele hande het saamgebrei om hierdie komberse klaar te kry.
SASOLBURG. – Die gras voor die pawiljoen by die D.P de Villiers-stadium in Sasolburg was weer gepak met ’n bonte verskeidenheid van komberse.
Dit was duidelik die Vlytige Vingers Breigroep was weer besig die afgelope jaar. Hierdie jaar het hul 87 enkelbedkomberse (wat uit ongeveer 17 748 gebreide blokkies bestaan) en 29 kniekomberse gehekel en gebrei vir liefdadighed.

Nadat daar foto’s geneem is, het die onderskeie organisasies hul komberse ontvang. Komberse is aan Leeuhof, Holly Country, Helplift, Suster Watkins van die Apostoliese Kerk in Vanderbijlpark, Huis Belinda, die Toevlugsentrum in Sasolburg, ’n NPO van Rosetta in Pretoria, Huis van Riebeeck en kniekomberse is aan ’n tehuis vir bejaardes in Parys geskenk.
Anita Hanekom, die organiseerder van die projek elke jaar, sê hulle het die afgelope jare al 747 komberse in die Vaaldriehoek geskenk.
Sy het die eerste breiprojek in 2002 van stapel gestuur toe sy nog by Korrektiewe Dienste werksaam was.
“Ek het baie oorskietwol gehad en het sommer vir die pret van die manlike gevangenes geleer brei. Teen 2004 het ons 28 komberse vir ’n sentrum vir gestremde kinders in Refengkotso geskenk.”

Met haar aftrede in 2021 het die gevangenes al 487 komberse vir behoeftige persone in die Vaaldriehoek geskenk.
“Die gevangenes het gebrei en ek het al die komberse aanmekaar gehekel,” onthou sy daardie tyd.
Kort na haar aftrede het NG Gemeente Fonteine se predikant haar genader om voort te gaan met haar kombersprojek.
Aanvanklik het vyf dames gehelp brei, maar dit het baie gou uitgebrei en al hoe meer mense het betrokke geraak
Teen 2022 het mense so ver as Port Shepstone, Beaufort-Wes, Klerksdorp, Bloemfontein, Pofadder, Gansbaai, Centurion en Hartenbos begin om blokke te brei en aan te stuur.
Tans is daar meer as 30 mense deel van Vlytige Vingers, die meeste brei, maar daar is ook ’n hele paar ywerige hekelaars onder die lede.
Hulle maak nie net ‘n verskil in mense se lewens wat die komberse ontvang nie. “Hierdie groep is ’n ondersteuningsgroep wat na mekaar uitreik, mekaar opbou, vir mekaar bid en een keer per maand vergader vir ’n heerlike kuier, lag en lekker samesyn,” vertel Anita .
Enigeen wat ’n bydrae wil maak, deur wol of blokke te skenk, kan gerus kontak maak met Anita Hanekom by 0835576399.
