Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Oor ou tikmasjiene en die nostalgie daar agter en 'n skinder storie of twee oor Pastoor die Papegaai.

RUBRIEK. – Een van die inwoners in ons huis het verhuis. Pretoria toe. Dis nou Pastoor die papegaai.

Blykbaar is hy nou Pastoor Nicky, want so is daar besef hy is nou eintlik ‘n sy.

My niggie Anneke (my Pekinese Antjie is na haar vernoem en Bessie na haar suster) en haar ander helfte, Dave was vroeg Saterdag daar vir die groot trek.

Die twee was gewapen met heelwat gereedskap en het eers baie dinge in die huis vir ons reg gedokter.

Handig die twee. Verstaan heeltemal hoe om gevalle geraamde horlosies te herstel en toiletsitplekke te vervang.

Die ou sitplek was van hout gemaak en dit het gekraak. Knyp die sitplek elke keer jou binnebeen so met die sitslag.

Nou is daar ‘n splinternuwe een en man, sit ons lekker! Allegeval, so met die uitklimslag druk Anneke ‘n grote sak in my hande.

“Soos belowe” sê sy. Binne die sak is daar ‘n regte-egte outydse tikmasjien. ‘n Remington.

In die 80’s het ons albei ‘n draagbare tikmasjien gehad. So ewe ‘n handvatsel gehad en ‘n oulike swart deksel.

My nuwe “ou” tikmasjien. Foto: Gerda Bruinette

Ek het vele rympies en stories op daardie tikmasjien gepleeg. Later jare het ek ‘n elektriese tikmasjien gehad.

Was nogal ‘n aanpassing, want die ou tikmasjiene moes mens hard slaan voordat die lettertjies verskyn het, terwyl die elektriese masjiene versigtiger hanteer moes word.

Ek onthou hoe ek op ‘n stadium ‘n hele handleiding vir Pa vir sy werk op daardie masjien moes tik.

Tussen my wat nie lekker Pa se handskrif kon lees nie en nie regtig tikvaardig was nie en Pa se ongeduld oor ek nie weet van resin en sand en vormgieter dinge nie, was die vet kort-kort in die vuur.

Eindelaas was die taak darem afgehandel en Pa het my met ‘n hele sakkie gekerfde biltong beloon.

Met die jare saam het die tikmasjiene verlore geraak, maar elke keer as ek ‘n ou tikmasjien in ‘n antieke winkel sien, dan ween my hart vir een.

Dit voel net vir my dis iets wat ‘n joernalis moet hê. En daar bring sy vir my een.

“Jy moet maar self met ‘n borseltjie inspring en alles skoonmaak en nugter weet waar gaan jy lint kry,” vertel sy my asof sy dink ek gaan enige oomblik wegspring en ‘n storie tik.

Nee, tik op die masjien die wil ek nie. Hy is daar vir die nostalgie. Die onthou en selfs om as motivering te dien vir toekomstige stories wat dalk nog mag kom.

‘n Mens weet nooit. Die huidige lint is bruin van ouderdom, maar al die sleutels werk nog. Ek het summier ‘n foto geneem en op bakkiesblad gespog.

My tannies Thea en Hettie Bruinette het dadelik laat weet hulle het op presies so ‘n masjien leer tik, met Tannie Thea wat bygevoeg het dat sy menigmaal oor die vingers getik is met ‘n liniaal wanneer sy op haar vingers geloer het.

Ander kon dadelik die geluid wat net ‘n tikmasjien gemaak het oproep, om nie te praat van die gevoel as twee van die sleutels tegelyk inmekaar vasslaan nie.

Ander tye. Ek is baie bly vir my tikmasjien, maar dankbaar vir ‘n rekenaar waar dinge baie vinniger en eenvoudiger gaan.

Self het ek nooit tik op skool gehad nie. Beland ek op universiteit en hulle vertel ons alle kommunikasiekundestudente moet kan tik want “in jul vierde jaar gaan jul alle vraestelle tik en nie skryf nie.”

Daar land ek toe in tik 101 en dit was ‘n nagmerrie van die eerste water. Al daardie reëls en spasies en die kwaai tikdosent.

Gelukkig het rekenaars oorgeneem en teen my vierdejaar was vraestelle op ‘n tikmasjien tik iets van die verlede.

Al wat ek oorgehou het van daardie nagmerrie tik 101 is dat ek weliswaar kan tik sonder om op my hande te kyk en dit nogal met al my vingers.

Dit help in my beroep, veral as die spertyd wink.

Om terug te kom by die papegaai. Sy geniet haarself vreeslik in haar nuwe tuiste.

Drink skielik water saam met Dave uit ‘n bottel, is nie gepla as hul mak glasogie in haar hok kom nie en het ‘n hele sak nuwe speelgoed van haar tannie Bessie gekry.

Jaag reeds almal aan met “kom, kom, kom nou” as hul te stadig is om vir haar kos of lekkernye aan te dra.

Volgens gerugte het sy ook ‘n woord geuiter wat nie heeltemal by ‘n pastoor pas nie toe sy gesukkel het met ‘n ou afstandbeheer wat sy in die kloue gekry het.

Na bewering was dit nie in Ma se stem nie.

Synde dat die honde nie Afrikaans magtig is nie en net ek en Ma in die huis bly, vermoed ek die papegaai het dit seker maar net êrens toevallig gehoor… Sela!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button