Erfenisdag: Monumente en geskiedkundige plekke in die Vaal
Almal in Suid-Afrika kan vandag met oorgawe hul kulturele erfgoed, taal, tradisies en geskiedenis vier. Daarby kan ons ook 'n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse tradisie, om te BRAAI, uitleef. So, gooi daardie tjoppie op die kole en nooi sommer ook die bure - maak nie saak van watter kultuur hulle is nie. Dis 'n dag om uit te reik na alle mede-Suid-Afrikaners!
Erfenisdag word vandag, Sondag, 24 September, in Suid-Afrika herdenk. Dit is ‘n dag waarop ons ons erfgoed uit die verlede, soos ons taal, tradisies, geskiedenis en monumente vier en opnuut waardering daarvoor by ons kinders aankweek.
Die bewaring van historiese monumente gaan nie bloot oor die beveiliging van ou strukture nie; dit gaan oor die behoud van ons kollektiewe geheue en kulturele identiteit. Hier is drie van die Vaaldriehoekgebied se mees noemenswaardige monumente.
Die Konsentrasiekamp-kerkhof en gedenkteken
Die Vereeniging-konsentrasiekamp is in September 1900 in die suidoostelike hoek van die dorp deur die Britte ingerig. Teen 1901 het dit meer as 1 000 vroue, kinders en bejaarde mans in tentkampe gehuisves.
Lewensomstandighede in die kampe was haglik, met geen lopende water, min voorrade en min welsynsorg vir die ‘gevangenes’. Die inwoners van die kampe was hoofsaaklik boervroue en kinders wat daarheen geneem is nadat Britse troepe hul opstalle en plase afgebrand het. Meeste van die mans en pa’s het in daardie stadium reeds aktief teen die Britte gaan veg.
Baie van die konsentrasiekamp-inwoners het weens hongersnood en siektes gesterf. Die hartseerste was seker die kinderslagoffers, waarvan daar sowat 500 in die Vereenigingkamp was. In totaal het 156 mense in die kamp gesterf, van wie 108 kinders onder die ouderdom van 15 was.
Na die ondertekening van die Vrede van Vereeniging in 1902 is die aangehoudenes in fases vrygelaat en teen die einde van Oktober 1902 is die kamp gesluit.
Die Konsentrasiekamp-kerkhof is vandag ‘n stille bewys van daardie bitter hartseer jare. Die kerkhof en gedenkteken word steeds gereeld deur kultuurgroepe van die omgewing skoongemaak en in stand gehou.

Die Vredesmonument in Vereeniging
Vereeniging het ‘n beduidende rol in die Anglo-Boereoorlog gespeel. Behalwe dat die distrik die terrein van menige bloedige geveg was, geniet Vereeniging die eer dat dit die dorp is “waar die oorlog geëindig het”.
Die Verdrag van Vereeniging (ook genoem die Vrede van Vereeniging) is op 31 Mei 1902 onderteken en het ‘n einde gebring aan die smartlike konflik tussen die Britse Kroon en die Boere-setlaars vir soewereiniteit van Suid-Afrika en vir die land se ryke hulpbronne.
Die konflik tussen Boer en Brit het die moderne wêreld aan guerilla-oorlogvoering en konsentrasiekampe bekendgestel en het gelei tot die dood van derduisende mans, vroue en kinders, wit sowel as swart, in die eerste twee jaar van die 1900’s. Die Vrede van Vereeniging het ‘n hartseer maar welkome vrede na Suid-Afrika gebring, met soewereiniteit aan die Britte.
Die Afrikaanse woorde op die Vredesmonument by die Vereeniging-stadsbiblioteek in die burgersentrum lui: “Gewond maar Onoorwonne”, wat beklemtoon dat die Afrikaner se innerlike krag nie deur die Britte se oorwinning vernietig kon word nie.

Sharpeville Heritage Precinct
Sharpeville, digby Vandebijlpark en Vereeniging, het ‘n groot rol in die geskiedenis en erfenis van die Vaaldriehoek gespeel en is ‘n naam wat steeds wêreldwyd bekend is.
‘n Tragiese bloedbad het op 21 Maart 1960 hier plaasgevind toe 69 betogers in ‘n skare wat teen swart paswette betoog het, dood is en 180 ander beseer is nadat die polisie op die skare losgebrand het. Dit het Sharpeville jare lank in die buiteland in die nuus gehou as een van die grootste apartheidsvergrype ooit. Die gebeure van 21 Maart 1960 het wêreldwyd ‘n geweldige weerstand teen Suid-Afrika laat opbou en die land die bynaam as “muishond van die wêreld” besorg.
Die Sharpeville-slagting is steeds wêreldwyd bekend as een van die mees tragiese en betekenisvolle gebeure in Suid-Afrika se apartheidsgeskiedenis.
Die tragedie word met ‘n gedenkteken in die Sharpeville Heritage Precinct in Seeisostraat, Sharpeville, in herinnering gehou. Dit sluit die Phelindaba-begraafplaas in, waar slagoffers van die slagting begrawe is.

