Editor's noteSportSport

Rennie gee vir Springbokke sooibrand!

Miskien is hierdie nederlaag net die regte medisyne vir Springbokke voor aanstaande jaar se WB-toernooi Doer Onder.

VANDERBIJLPARK – As verwoestende skrumwerk die enigste faset was wat rugbytoetse gewen het, sou die Springbokke vanoggend met ’n glimlag op hulle bakkies en ’n toetssege agter die blad ontwaak het.

Die All Blacks het Saterdag 22 Augustus op Ellispark ’n skoksege van 33-16 oor die Springbokke behaal. Die Springbokke het rustyd met 13-12 voorgeloop, maar die verwagte resultate van die sagmaakproses voorlangs het nooit in die tweede skof vrugte afgewerp nie.

Die Springbok-agtsteman Jasper Wiese het All Blacks besig gehou. Foto;s: Ettienne van Rensburg

Die All Blacks was deurentyd kalm en het niks te skouspelagtig gedoen nie. Niks was geforseer nie. Hulle het die basiese dinge goed gedoen. Die Springbokke het verroes voorgekom en die gebrek aan samespel het soos ’n seer duim uitgestaan.

Slegs speeltyd tussen die vier lyne sal dit kan oplos. Die All Black-masjien het met wenmomentum die toets binnegegaan en Dave Rennie se troepe het die 65 000 toeskouers tjoepstil gespeel. Ja, daar was twyfelagtige beslissings en sagte drieë is afgestaan, met die All Blacks wat vyf teenoor een drieë gedruk het, maar dit is nie die Springbokke se eerste sukkeltoets nie.

Pieter-Steph du Toit en Cheslyn Colby sak op die All Blacks toe. Foto: Ettienn van Rensburg

Die Argentyne het as’t ware die bloudruk vir die Nieu-Seelanders verskaf oor hoe om die Springbokke te klop. As jy die eerste kontaksituasies met rotsvaste verdediging wen, lyk die Bokke baie beskeie.

Daar is beslis rede om liries oor die diepte in Springbokrugby te raak, maar die proeflopies moet nou einde kry. Die kernbeginspan vir volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi Doer Onder moet nou die geleentheid kry om die een toets na die ander saam te speel.

Cam Roigard, skrumskakel van die All Blacks maak agter die oond skoon.

Hoewel die All Blacks se Will Jordan as die Speler van die Wedstryd aangewys is, het die Springbok-agtsteman Jasper Wiese ’n reusewedstryd gehad. As baldraer het hy die besoekers deurentyd laat knor in die verdediging.

Wat ons uit hierdie toets geleer het, is eenvoudig: die Springbokskrum is verwoestend, maar ons lostrio moet gefinaliseer word.

Pieter-Steph du Toit op die aanval

Die skakelpaar Grant Williams en Sacha Feinberg-Mngomezulu het gesukkel om hul stempel af te druk en sake te dikteer. Cobus Reinach en Handré Pollard sal na dese waarskynlik baie sterker op die voorgrond tree.

Veral teen die All Blacks is die Reinach/Pollard-kombinasie ’n beter opsie. Ja, ’n mens boet miskien ’n bietjie flair in, maar die ervaring van die skakelpaar en hul vermoë om groot kragmetings onder druk te wen, kan die skaal in hul guns laat swaai.

Pieter-Steph du Toit en Grant Williams lak ‘n All Black.

Die druk rus nou stewig op die Springbokke se skouers. Die volgende toets, eerskomende Saterdag op die DHL-stadion in Kaapstad, is nou ’n moet-wen-kragmeting vir die Bokke indien hulle die Rugby’s Greatest Rivalry-reeks wil wen.

Die derde en vierde toetse vind onderskeidelik op 5 September en 12 September op die FNB-stadion in Johannesburg en die M&T Bank-stadion in Baltimore, VSA, plaas. Dit sal die eerste keer wees dat die Springbokke en All Blacks ’n toets in die Verenigde State speel.

Wie gaan die tweestrud in die lug wen?

PUNTEMAKERS:

All Blacks: 33 (12): Drieë: Will Jordan (2), Josh Moorby, Fabian Holland en Luke Jacobson. Doelskoppe: Ruben Love (4).

Springbokke: 16 (13): Drie: André Esterhuizen. Strafdoele: Cheslin Kolbe (3). Doelskop: Kolbe.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button