Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Ons kantoor het martelmasjiene wat mens laat ly... of is dit net ons wat nie ons kantoorstoele kan bestuur nie? Lees meer...
RUBRIEK. – Daar is ‘n martelmasjien in ons kantoor. Eintlik is daar ‘n hele paar. Almal dieselfde modelle.
Weet nie of dit dieselfde effek op almal het nie, maar ek en ons geagte senior redakteur, Elsje loop gereeld deur.
Ek dink die masjien is uit die Middeleeue ingevoer. Ek is seker daar is al rillers oor gemaak.
Wat is dit? My mens, dis ‘n wieletjiesstoel en ‘n laai met ‘n skerp hoek. Kombineer dit met ‘n gladde vloer en ek sê vir jou dis ‘n pyniging wat wag om plaas te vind.
Ons sal doodonskuldig sit en ons werk doen. Konsentrasie is hoog. Donderdae sak die koerant. Noodwendig beteken dit dat mens nie heeldag stilsit agter jou rekenaar nie.
Ek en Elsje se werkstasies is direk langs mekaar. Dit gebeur kort-kort dat een van ons iets op die ander se skerm moet waarneem. Daar is nie tyd vir opstaan nie, nee, mens skiet net jou stoel na links of regs en dan woerrrr jy weer terug.
Dit alles doen jy terwyl jy praat oor die werk op hande. Die koerant wat vorm aanneem en die allerbelangrike kwessie oor watter tipe koffie ons volgende wil drink.
So, wanneer jy weer terug is agter jou eie stasie, is die idee om vorentoe te skiet en ‘n paar goed tegelyk te doen.
Soos om jou sin te voltooi, jou vingers so vinnig as moontlik weer op die sleutelbord te kry en daadwerklik aan te gaan waar jy laas besig was.
Dis nou hier waar die martelmasjien inskop. Misgis jou met enkele sentimeters met die terugskietslag en jou knie en die hoek van die laai onder die tafel het ‘n kopaan-kop botsing van formaat.
Die pyn verblind, jou mond uiter vanself woorde wat ‘n matroos sal laat bloos en vir ‘n oomblik is jy doodseker jou knie is middeldeur, die bloed spuit ‘n boog en jy sal nooit weer normaal loop nie.
Intussen sit jou kollega en simpatiseer en lag tegelyk. Dis so ‘n mengelmoes van emosies, want snaaks bly snaaks, die empatie is daar want jy het dit al ervaar, maar daar roer ook vrees in jou hart.
Geen mens weet wanneer gaan die pyn monster jou volgende tref nie. Ek het hoeka so week of wat gelede weer ‘n ontydige konneksie met die hoek van die laai gehad.
Mensig dit was seer. Toe ek uiteindelik my oë oopmaak om die skade te bekyk, was ek uiters verbaas dat daar nie daadwerklike swelling, verkleuring van die vel na blouswart en bloed by betrokke was nie.
Is eintlik moeilik om te glo ons gly so maklik in die laai vas, maar aan die anderkant, ek is rigtingbeduiweld gebore. Dalk moet ek maar net ʼn knieskut in die kantoor begin dra. Sela!
