Local newsNewsNews

Mirandi in top 8 van Die Kontrak 3

Die Vaal se eie Mirandi deel van Die Kontrak 3 (e.TV) finaliste. Ons hou duimvas. Lees meer...

VEREENIGING. – Tarryn Lamb beskryf haar as Suid-Afrika se Tina Turner. Haar duisende aanhangers stem saam.

Die Kontrak seisoen 3 het onlangs op e.TV afgeskop en die Vaal se Mirandi Morsnër is een van die finaliste. Haar besonderse sangstem het dadelik die aandag getrek.

Mirandi saam met haar dogter, Deuterenomium en man, Chris Morsnër.

Sy was een van die 24 deelnemers uit meer as 3 500 inskrywings wat deur die vier mentors, Tarryn Lamb, Refentse, Monique Steyn en Demi Lee Moore gekies is.

Dit was al in Februarie. Sedertdien het daar baie water in die see geloop. Die 24 deelnemers is na 16 verminder en uiteindelik het die top 10 deel van dié TV-reeks geword.

Sondag, 24 September het Mirandi met haar weergawe van I’d rather go blind, na die top agt deurgedring.

Mirandi is gebore en getoë in Carletonville, maar sy is al ‘n geruime tyd ‘n Vaaldriehoeker saam met haar man, Chris. Sy sing al sedert vyfjarige ouderdom en onthou hoe sy, haar ouers en sussies by kerke opgetree het.

Alhoewel sy ‘n passie vir musiek en mense het, is sy ‘n introvert van geaardheid en het dit nie eens oorweeg om vir Die Kontrak 3 in te skryf nie. Groot was haar verbasing toe sy hoor Chris het haar ingeskryf.

“Ek was baie kwaad vir hom, maar toe hy my die positiewe kommentaar op die videoinskrywing op sosiale media wys, het ek geweet die tyd het aangebreek om ‘n verskil in ander se lewens te maak.”

Haar eie lewe het vreemde, seer kronkelpaadjies geloop en doen steeds, maar sy glo sy kan hoop en lig vir mense bring.

“Ek was baie jonk toe ek in ‘n huwelik was waar ek emosioneel en fisies mishandel is. Ek wil vir mense in dieselfde situasie sê, onthou daar is hoop. Daar is opsies. As ek daaruit kon kom, kan jy ook.”

Mirandi beskou haar jongste dogter Deuterenomium (10) as ‘n wonderwerk.

“Ek was maar 24 weke swanger toe ek in kraam gegaan het. Die staatshospitaal wou die baba aborteer. Daardie nag het ek my hande om my maag gevou en vir die Here gesê ek sal vir Hom leef as hy asseblief net my baba spaar.”

Die volgende oggend was die dokter verstom. Die skeurtjie was weg, maar daar was slegs 11% vrugwater oor. Agt weke later is haar dogtertjie op 32 weke gebore.

“Ek het net daar tot bekering gekom,” vertel sy en haar gesig straal. Chris is haar grootste steunpilaar, klankman en kitaarspeler by haar optredes. Haar pa, Gert Vermaak is haar held en haar baskitaarspeler. Sy geniet dit om weer te kan sing, nadat sy dit vir jare nie kon doen nie.

Volg gerus Die Kontrak 3 op e.TV elke Sondagaand om 18:00 en gaan like en deel Mirandi se video’s wat op Tiktok, Instagram (@mirandimorsner) en op die Facebookblad Die Kontrak beskikbaar is na elke week se episode.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button