Gered, aangeneem en gelukkig
By Highveld Horse Care Unit word perde gered uit haglike omstandighede. Beseer, siek, mishandeld. Maar uit die hartseer, is daar stories van hoop.
MEYERTON – Ontmoet Mario en Geronimo. Die twee stalmaats is dalk al bietjie lank in die tand, maar die afgelope 21 jaar leef hul soos konings.
Die Highveld Horse Care Unit (HHCU) het die twee perde by ʼn DBV gekry. Niemand kan meer hul agtergrondstorie onthou nie, maar die vreugde was groot toe albei op 22 Junie 2005 aangeneem is.
Op die 21ste herdenking van hul aannemingsdag het hul spesiale lekkernye gekry en die HHCU het die foto op hul Facebookblad gedeel.
Die HHCU is ʼn perdeversorgingseenheid wat sedert hul ontstaan in 1991 al duisende perde (en donkies) gered, gesond gedokter en nuwe huise voor gekry het.
So hier en daar is daar natuurlik ʼn dier of twee wat permanent by die HHCU ingetrek het.
Twee van hulle is die donkies, Stevie en Silwer. Stevie het al in 2008 besluit om te bly en Silwer in 2021.

Die twee is onafskeidbaar en is altyd lus vir ʼn snoepdingetjie. Hulle is ook die eerstes wat besoekers groet… ingeval hul iets kry om te eet. Stevie is die ekstrovert en Silwer die introvert, maar saam is hul ʼn goeie span.
Vandag is albei spekvet en gesond, maar beide het swaargekry voordat hul gered is. Stevie is onder meer so hard met ‘n knopkierie geslaan dat hy een oog verloor het en net gedeeltelik uit die ander kan sien.
Die HHCU het onlangs op hul Facebookblad gesê mense sien baie maal net die voor en na foto’s, maar besef nie dat dit hope tyd, geduld en hulpbronne neem om die diere te red en weer op die been te bring nie.

Die span by die eenheid gee nooit op nie en sit alles in om elke perd die kans te gee op ʼn beter lewe.
Ashley Ness, senior inspekteur by die eenheid en haar span glo dat elke perd dit verdien om ʼn slegte verlede agter te laat en ‘n beter toekoms te hê.
Natuurlik kan die eenheid altyd doen met donasies. Gaan volg hul gerus op hul Facebookblad Highveld Horse Care Unit en help hulle om lewens te verander, een perd op ʼn slag.