News

Van Reenen wil nuwe borgaansoek indien

Beskuldigde wil weer om borgtog aansoek doen nadat haar vorige aansoek reeds afgekeur is.

VANDERBIJLPARK – Die vrou wat daarvan aangekla word dat sy honderde duisende rande van inwoners van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit geneem het om hul munisipale rekeninge teen afslag te vereffen, maar wat die geld na bewering eerder vir haarself aangewend het, wil weer om borgtog aansoek doen.

Die 25-jarige Janitha van Reenen staan tereg op aanklagte van bedrog wat verband hou met honderde duisende rande wat na bewering van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit en inwoners verkry is.

Sy word daarvan beskuldig dat sy haar as ’n onafhanklike agent voorgedoen het wat inwoners sou help om afslag op hul munisipale rekeninge te kry.

Volgens die staat het inwoners geld aan haar betaal onder die indruk dat hul agterstallige rekeninge vereffen sou word, terwyl die fondse glo nooit by die munisipaliteit of die beoogde begunstigdes uitgekom het nie.

Daar word ook beweer dat sy vals eise by die munisipaliteit ingedien het, wat tot uitbetalings van sowat R400 000 tot R500 000 gelei het.

Van Reenen is vroeër borgtog geweier op grond daarvan dat sy ’n vlugrisiko inhou en moontlik met getuies kan inmeng. Die staat het destyds suksesvol aangevoer dat haar vrylating nie in belang van geregtigheid sou wees nie.

Intussen word daar in berigte spekuleer dat sy moontlik oor inligting kan beskik rakende die moord op Emfuleni se voormalige finansiële beampte en fluitjieblaser, Martha Mani Rantsofu, wat vroeër vanjaar in Vanderbijlpark vermoor is nadat sy glo finansiële onreëlmatighede blootgelê het.

Die familie van die oorledene het ook ’n beroep gedoen dat enige persone met inligting oor die aanval na vore moet kom.

Die saak word op 29 Junie weer in die hof hervat wanneer die nuwe borgaansoek aangehoor sal word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button