Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Wie onthou nog die ou Vicor se kerspartytjies vir die kinders elke jaar? My pa was 'n Vicoriaan. Vandag verlang ek sommer na al pa se oudkollegas, en my pa.
RUBRIEK. – Vanderbijlpark in die 1970s en 80s. Die dae wat bykans almal se pa’s of by die voormalige Yskor of Dorbyl/ Vicor gewerk het. Selfs die woongebiede was verdeel. Daar was Yskorhuise en Vicorhuise.
My pa was ‘n moulder, die regte Afrikaanse woord is vormgieter, in die smeltery by Vicor. Die Vicoriane was soos ‘n familie.
Destyds het die maatskappy elke jaar ‘n Kersboompartytjie vir die werkers se kinders aangebied. Elke jaar by dieselfde Engelseskool.
Elke jaar het hul die fliek, Peter and the Wolf (1946) vertoon. Daar was ‘n Kersvader en twee narre.
Grootste opwinding was egter vooraf. Dan kon die kinders in OK se winkelvensters ‘n geskenk uitsoek.
Daardie jare was OK nog in die hoofstraat en window-shopping was ‘n algemene tydverdryf.
Selfs na Pa se aftrede was dit altyd ‘n gedoente as hy ‘n oudkollega in ‘n winkel raakloop. Vasgesteek en gesels. Mens is al klaar gewinkel, dan gesels Pa nog.
Nou is Pa nie meer daar nie. Maar, manne wat saam met hom gewerk het, keer my gereeld voor. By die onlangse Biker 4 War Heroes was daar drie oudVicoriane waarmee ek gesels het.
Altyd lekker om te hoor, “jou pa was ‘n yster.” Grootste kompliment vir my is as hul sê, ‘jy lyk nes jou pa.’ Nico Pieterse, ‘n weermagveteraan, het dit een stap verder gevat, “jy praat ook nes hy.”
Goed om te weet Pa het so op sy eie manier diep spore in Vanderbijl getrap. Hy en al die ander manne wat saam met hom gewerk het. Ek het nie almal ewe goed geken nie. Kan nie almal onthou nie.
Daar was oom Alec Kock, oom Dries van den Heever, oom Dewald “Oppies” Opperman, Oom Ernst Lottering, Oom Gert Wallis. Dis die jongeres van daardie dae wat nog leef. Paul Strydom, Nico Pieterse, Willie Pietersen…
Ag ja. Vandag verlang ek na die dae wat ek ‘n geskenk in OK se winkelvensters kon uitsoek. Die dae wat Pa my hand styf vasgehou het omdat ek bang was vir die narre.
Die dae wat Pa en Oom Oppies saam gaan visvang het. Die oor en weer kuier. Die keer wat Pa my noodgedwonge by die fabriek moes insmokkel en ek grootoog kyk hoe word tonne staal getap.
Bowenal, verlang ek na Pa. Ons stap steeds die pad saam Pa, want ek lyk soos jy, ek praat soos jy en ja, ek snork selfs soos jy. Sela!
