Die skoen is aan die ander voet
Die slag as 'n voormalige wiskunde onderwyseres 'n joernalis vastrek vir 'n onderhoud, dan raak dinge nogal interessant. Lees meer...
Vandag kuier ‘n voormalige onderwyseres by Vaalweekblad joernalis, Gerda Bruinette. Ons stel aan die woord, mev. Rina Bosch.
Gerda was ‘n leerling in my klas, maar dis buite die klaskamermure waar ons mekaar regtig leer ken het.
Ons toer saam met mnr. PW Pieterse (sr.) na Rubbervale in die ou Oos-Transvaal. Slaap oor by ‘n omskepte stasie en eet die lekkerste melkkos soos wat net mnr. Pieterse kan maak. Ry baie rond. Heerlik! Goeie herinneringe.
Ons albei was ook lede van die Afrikaanse toneel in 1988. Die skool het Faan se trein opgevoer. Sy was een van die souffleuses en ek die verhoogbestuurder.
Daardie jaar was Hoërskool Vanderbijlpark die wenners van die direkteurstrofee van die ATKV Toneelkompetisie.
Onlangs het ek met Gerda gesels om meer oor die mens agter die kamera en notaboek uit te vind. As kleuter was Gerda al gaande oor stories en veral haar Ouma Bessie moes altyd voorlees.
Tot die een dag wat Ouma nie meer lus was vir voorlees nie en Gerda op 5 vir haar ouma vra om haar te leer lees.
Sy skryf van kleins af versies en word aangemoedig deur haar Engelse onderwyseres in standerd 4, mev. Suzette Vlotman, om meer te skryf.
Na matriek studeer sy B.Bedryfskommunikasie aan die voormalige PU vir CHO, behaal haar graad en maak wye draaie. In 2020 word sy aangestel in haar droom pos, joernalis by die Vaalweekblad.
Op ‘n vraag hoekom dit vir haar lekker en vervullend is om joernalis te wees, beduie sy dat sy die vele fasette van haar werk geniet, van die besoeke aan skole en die teater tot by individue.
Ek besef net weer hoe die Vaalweekblad stories vir die gemeenskap uit die gemeenskap skryf. “Vertel my meer oor hierdie stories wat jy so skryf”, vra ek en ek sien hoe sy haar dadelik inleef en begin vertel.
Dis duidelik haar werk is haar passie. Sy vertel van die ma wat haar hart teenoor haar oopgemaak het nadat die vrou se baba doodgebrand het.
Van die herdenking van die brugramp by Hoërskool Driehoek. Hoe dit anders was hierdie jaar. “Ek het in my motor geklim na die kranslegging en net begin huil,” skud sy kop.
Geharde joernalis is sy nie, daarvoor is haar hart te sag. Dan het Gerda ook ‘n sagte plek in haar hart vir kinders, en veral kinders met spesiale behoeftes.
Sy lag lekker as sy vertel van al die kere wat sy al probeer foto’s neem het terwyl die kamera nie ‘n battery of simkaart ingehad het nie.
Die tye wat haar pen nie meer wou skryf nie, of die notaboek se laaste bladsy wat skielik in die middel van ‘n onderhoud sy verskyning maak.
Om met Gerda te gesels en na haar stories te luister, het my laat voel asof ek in ‘n ander wêreld is.
Dis toe dat ek besef het, Gerda, jy hoef nie ‘n wiskundesom te kan doen nie. Wat belangrik is, is die mense. Gerda en haar kollegas bring die stories en belewenisse van die Vaaldriehoek se mense na ons toe.
Dis lekker om al die goeie nuus stories te lees. Vaalweekblad, ons het julle nodig. Julle is deel van ons daaglikse stories. Dankie Gerda. Dankie Vaalweekblad.
