Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Ek wou regtig help en kelner speel, maar dit het nie heeltemal so uitgewerk nie. Lees meer...
RUBRIEK. – Seg ‘n vriendin van my haar dagsorgsentrum, Flinke Dinkers gaan ‘n skaduskof by een van die restaurante op die dorp werk om geld in te samel.
Die Flinkies is almal baie jonk en ek vra dadelik die onvermydelike vraag, wie gaan die werk doen?
Sy, haar man en die onderwyseres, was die parate antwoord. Impulsiewe ek laat weet haar dadelik dat ek ook sal kom help.
So gesê, so gedaan. Ons meld net voor 18:00 vir diens aan. RocoMamas bestuurder, Hennie Wagener deel haarnette uit.
Ek en Endri lag so, ek vergeet om ‘n foto van die skouspel te neem. Ook maar goed so, op ons ouderdom kon die swart haarnette nie goed gelyk het nie.
Die eerste groot taak op die agenda is vir jonge Dylan en Leahné om hul eie melkskommels te maak. Dit was bietjie morsig, maar hulle het dit geniet.
Met die kleingoed tevrede, gaan ons op toer deur die restaurant. Eerste stop is die kombuis.
Grote griet en genadendal, die plek lyk toe vir my geheel en al te ingewikkeld. Alles werk met kleurkodes.
Die rooi bak en mop is vir die badkamers, die geel vir die restaurant voor, die groen vir agter in die kombuis, die blou vir by die braai-areas. Ek dink. Ek weet nie.
Ek verloor geheel die draad van die storie. My brein weier om selfs die kleure te onthou. Intussen het ons tot in die yskaste gevorder.
Ek probeer hard om te konsentreer, maar is steeds paniekerig oor die kleurkodes. Endri sien net die verskeie blokke kaas raak.
Haar man, Johan is doodstil en ek het geen idee wat het van Lee-Ann geword nie. Teen die tyd wat ons by die braai-area kom, klop my hart in my ore.
“Wat is daai kleurkodes nou weer?” vra ek benoud vir Endri. “Rooi vir die kombuis. Geel vir die badkamers,” verklaar sy. “Nee,” kom Johan tussenbeide “dis rooi vir die badkamers en blou vir die kombuis.”
Hennie frons, maar vertel sy storie klaar. Ons is beïndruk, maar gedaan. “Ek dink ons moet eers sit,” besluit ek en Endri stem saam.
Ons gaan sit. Hennie beduie hoe elkeen van ons aan ‘n kelner toevertrou gaan word om hul skaduwees te wees vir die aand. Ek kry hartkloppings en sien al hoe laat val ek ‘n skinkbord op iemand se skoot.
Dan skud hy sy kop. Simpatie breek deur in sy oë en hy glimlag. “Sit rustig. Gesels met die mense en moenie worry nie. Julle is hier. Dis wat tel. Ons gee vanaand 10% van wat ons maak vir die Flinke Dinkers.”
Dankie Hennie. Dankie RocoMamas en almal wat geld geskenk het daardie aand. Dit gaan vir ‘n goeie doel.
Bowenal dankie vir die genade bewys aan die middeljariges. Ons wou werk, regtig. Maar, ek dink ek moet maar by my eie beroep bly. Sela!
