Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Die week jok ek so bietjie, gesels hittegolwe en vertel hoekom ek so vies vir myself is oor 'n foto - wat nie geneem is nie.
RUBRIEK. – Daar land ek en ons geagte redakteur, Elsje in die tronk. Sommer so op ‘n warm Vrydagoggend. Niemand om ons borg te betaal nie.
So hittete of ons het die naweek agter tralies deurgebring. Onskuldig seg ek julle.
Ja, ja. Ek skiet nou spek. Groot liegstorie. Pure fopnuus. Ons het self agter die tralies gaan staan vir ‘n foto. Dit was by MooiVaal se jaareindfunksie.
‘n Wilde Weste partytjie gereël deur ons administratiewe-span. Behalwe dat ons erg warm gekry het onder ons Cowboy-hoede, was die oggend heel rustig en lekker. Baie gelag en lekker geëet.
Die hitte is net een te veel. Selfs die nagte is te warm. By ons huis blaas al wat waaier is op vol spoed, maar selfs die vloerteëls voel warm. Die slag as beurtkrag toeslaan dan wil mens huil. Vier ure sonder die waaier is mishandeling.
Dit nou daar gelaat. Na al die opwinding van die jaareindfunksie, was die res van die naweek dol verby. Ek het omtrent rondgerits van een kant van die Vaaldriehoek na die ander om darem by funksies gesig te wys en foto’s te neem.
Daar was nie tyd vir kuier nie, meer soos ‘n tref en trap situasie. Een plek waar ek wel vasgehak het, was die Etienne Rousseau Teater in Sasolburg. Sondagmiddag vir ‘n vertoning van Coenie de Villiers en André Schwartz.
Ek het bly draai in die voorportaal totdat almal uit is net om myself aan Coenie voor te stel. Die man was nog altyd een van my skrywer-ikone en om met hom in persoon te kon gesels was ‘n voorreg van epidermiese proporsies.
Ek wou eers vra dat hy my notaboek teken, maar dié het na ‘n hele naweek van hande wat sweet in die hittegolf nie meer so goed gelyk nie. Het dit ook oorweeg om die teaterbestuurder, Herman te vra om ‘n foto van my en Coenie saam te neem.
Maar, Herman was besig om ligte af te sit en deure toe te maak. Los ek dit maar, en nou is ek spyt.
Dis die ding van joernalis wees. Mens is veronderstel om altyd professioneel te bly, die regte vrae te vra, foto’s te neem en notas te maak.
Beslis nie om “star-struck” te raak as jy iemand raakloop wat jy vir sy uitmuntende skryftalent bewonder nie.
Maar mens bly maar mens en ten spyte van wat baie dink, is joernaliste ook maar net van vlees en bloed en ‘n paar kreatiewe krake aanmekaar gesit.
So, hier sit ek nou. Steeds in vervoering oor ek een van my skrywershelde se hand kon skud, maar terselfdertyd baie vies omdat ek nie maar ‘n foto van ons twee saam laat neem het nie. Sela!