Local newsNewsNews

Die MUNGA was ‘n pelgrimstog en avontuur

Hy het gesê hy gaan en hy het. Sjaen Lucas van Vanderbijlpark het die uitmergelendste bergfietswedren gery en klaargemaak. Lees meer...

VANDERBIJLPARK. – “Dit was ongelooflik. ‘n Groot avontuur en ‘n pelgrimsrit. Die MUNGA het my hele uitkyk op die lewe verander,” glimlag Sjaen Lucas (21).

Hy het 29 November om 12:00 saam met 129 ander fietsryers uit Bloemfontein vertrek. Hulle het 120 uur gehad om 1 132 km af te lê, op ‘n voorafuitgewerkte bergfietsroete.

Juis in die tyd het ‘n hittegolf Suid-Afrika getref en Sjaen sê temperature het bedags tot 51°C geklim met winde van by die 45 km per uur van voor af.

Sjaen wil hierdie foto raam. Dis hier waar hy met die fiets se band gesukkel het en mense van uit die niet verskyn en hom gehelp het. Hier het hy ook die Here by hom ervaar.

“Jy ry naderhand om te kyk waar sien jy ‘n windpomp. As daar ‘n plaasdam is, het ons net ingeval. Die lekkerste water ooit was die water wat direk uit die windpomp gedrup het,” vertel hy.

Daar was tye wat die lyfseer en moeg die oorhand wou kry, maar hy het deurgedruk. Aanhou ry. Min geslaap en dankbaar by Race Villages (so tussen 200 en 250 km uitmekaar) aangedoen.

Soms is die punte eers 03:00 die oggend bereik. Die oom wat die skaapvelletjies by Waterpunt 7 verkoop het, het sy lewe gered.

“Teen daai tyd kon ek net nie meer op die saal sit nie. My boude was al rowe en al ons gesalfsmeerdery het nie meer gehelp nie.”

Van dag drie af het hy saam met die voormalige Springbok, Jannie du Plessis gery. “Ek moes myself knyp. Daar is ek in die middel van niks en nêrens (in die Karoo) saam met een van my rolmodelle.”

‘n Dag wat wou-wou skeef draai, was toe hulle Ouberg en die Tankwa aangepak het. Ouberg is uiters gevaarlik, want die ryers moet teen skerp kranse afry, met die uitmergelende, plat Tankwa net daarna.

Sjaen by die eindstreep met die inspirerende slagspreuk – “The start of the rest of your life.”

Oor die 100 km van absolute niks. Geen koelte nie. Geen mense nie. Net hittegolwe wat voor jou dans.

“My vrees was om die Tankwa alleen aan te durf. Daar kry ek toe moeilikheid met my fiets se een wiel. Twee keer het ek die band reggemaak, die derde keer het ek moedeloos gaan sit, want ek het nie meer ‘n bommetjie gehad om die band mee op te blaas nie.”

Hy het gebid, die fiets opgetel en na die volgende waterpunt begin stap. Drie kilometer later het ‘n boer langs hom gestop en vir hom ‘n paar bommetjies gegee.

Kort daarna het ‘n pa en seun wat die dag in die Karoo fietsgery het, ook by hom gestop en sy wiel vir hom reggemaak. “Hulle kon sien ek was gedaan.”

Daarna het hul voor hom uitgery na die waterpunt en sodoende die wind bietjie gebreek.

“Ek het die grootste gedeelte van die Tankwa alleen gery, maar het heeltyd geweet die Here is met my. Die Leeu van Juda hardloop saam met my,” vertel Sjaen vandag.

Sjaen het om 08:45 die vyfde dag klaargemaak. Die lang tog wat in die Vrystaat begin is, het by die Doolhof Wine Estate in Wellington geëindig.

Hy het die tog aangepak om geld vir Nika Capital in te samel. Nika is ‘n niewinsgewende organisasie wat hul beywer om beter onderwys vir minderbevoorregte kinders te bied.

Indien jy Sjaen wil help om sy doelwit van R55 000 te bereik, kan jy ‘n donasie maak deur hier te klik. En ja… volgende jaar, gaan hy dit weer doen.

 
Back to top button