Sasolburgse speursersant gearresteer
Dit is 'n tree in die regte rigting om die publiek se vertroue in die Suid-Afrikaanse Polisiediens te herstel.

SASOLBURG – Lede van die Vrystaatse SAPD se Teen-korrupsie-eenheid het ‘n 43-jarige speursersant gearresteer vir afpersing en korrupsie.
Die arrestasie het op10 Julie plaasgevind tydens ’n beplande, lokaasoperasie wat agter die Sasolburg-polisiestasie uitgevoer is.
Die strik is gestel nadat die verdagte speurder glo vroeër die maand ‘n huis in Zamdela besoek en die 41-jarige eienaar meegedeel het dat ‘n saak van aanranding teen hom aanhangig gemaak is.
In plaas daarvan om die saak wettig te hanteer, het die speurder gesê “daar is geen saak nie” en voorgestel dat hulle “iets kan uitwerk” om sy arrestasie te voorkom.
Die klaer is gesê om R2 000 via ’n elektroniese fondsoorplasing (EFT) te stuur.
Die afpersing het op 8 Julie vererger toe die speurder teruggekeer en ’n verdere R10 000 eis om die aanklagte te laat vaar.
Die man het te kenne gegee dat hy nie soveel geld het nie, maar het belowe om ’n reëling te tref.
Die man het toe die saak onder die aandag van die Vrystaatse Teen-korrupsie-eenheid gebring. ’n Formele lokaasoperasie is goedgekeur en uitgevoer.
Die speurder het die man ontmoet om die geld af te haal, en is onmiddellik ná die transaksie in hegtenis geneem. Die gemerkte lokaasgeld is in sy besit gevind.
Die Provinsiale Kommissaris van die Vrystaat, luitenant-generaal Thabang Lesia, het die optrede van die lid ten sterkste veroordeel en herhaal dat die SAPD geen kriminele elemente in sy geledere sal aanvaar nie.
“Ons sal nie toelaat dat die wapen besmet word deur individue wat kies om hul gesag vir persoonlike gierigheid te misbruik nie,” het luitenant-generaal Lesia gesê.
“Hierdie suksesvolle operasie stuur ’n duidelike boodskap aan alle lede dat korrupsie uitgeroei sal word. Ek prys die Teen-korrupsie-eenheid vir hul vinnige optrede.
“Ons is ten volle daartoe verbind om ons geledere skoon te maak en die publiek se vertroue in die Suid-Afrikaanse Polisiediens te herstel.”
Die speurder het glo reeds Maandag in die Sasolburg-landdroshof verskyn op aanklagte van korrupsie and afpersing.
