Midvaal-nagtegaal stel vyf nuwe liedjies vry
Sy het pas vyf splintenuwe liedjies vrygestel.
MEYERTON. – Yolandie, ‘n bekende sangeres van Meyerton, het onlangs ‘n splinternuwe EP (‘extended play’, in Afrikaans ‘verlengde speeltyd’) met vyf nuwe liedjies vrygestel.
(‘n EP is ‘n uitgebreide musiekopname wat meer snitte as ‘n enkelsnit, maar minder as ‘n album of langspeelplaat bevat).
Die duetalbum getiteld Shades of Time bevat Yolande se verwerking van bekende liedjies soos Sonneblom uit Bethlehem deur Laurika Rauch, Listen to the Ocean deur Nina & Frederik, Tell Him deur Barbara Streisand en Celine Dion, Time to Say Goodbye deur Francesco Sartori, Frank Peterson en Lucio Quarantotto en Vivo Per Lei deur Andrea Bocelli.
Op die EP sing Yolandie saam met ander Suid-Afrikaanse sangers en sangeresse soos die liedjieskrywer en sanger Derick Scholtz, die sanger Kobus Prinsloo, die sangeres Karen Olivier, die sanger Gert Hartzenberg en die sogenaamde “Boere-Pavarotti”, Kevin Leo.
Die EP is op 17 November vrygestel en is op digitale platforms soos Apple en Spotify beskikbaar.
Dit het reeds goeie aftrek gekry. Yolandie is geen vreemdeling in die musiek- industrie nie. Die sangeres se professionele musiekloopbaan het al op 18-jarige ouderdom begin toe sy haar eerste CD in 1994 vrygestel het.
Haar musiek het blitsig treffers op Jacaranda Stereo geword en in 1997 het die CD-enkelsnit, Caravans, nog eerbewyse gebring. Yolandie het vinnig ‘n huishoudelike naam geword en het in haar jare in die musiekbedryf met groot name soos André Schwartz, Amor Vittone, Kevin Leo, Vicky Sampson en Mathys Roets saamgewerk.
