Local newsNews

Voertuig vermoedelik deur weerlig getref

'n Inwoner van Meyerton het met Vaalweekblad oor sy noue ontkoming gesels.

MEYERTON. – “In my lewe het ek nooit so iets verwag of voorheen beleef nie.”

So vertel Johan Greyling (40) van Riversdal na sy voertuig (Volkswagen Caddy paneelwa) totaal en al uitgebrand het.

Johan het ‘n paar minute tevore saam met sy dogtertjie in die swembad baljaar. Toe daar swaar weer in Midvaal begin opsteek was swemtyd verby, en Johan het besluit om gou kafee toe te gaan.

“Ek het nogal gesê ek wil gou maak voor die donderstorm lostrek. Ek is nou so dankbaar ek het nie my kind saam met my geneem nie,” sê Johan.

Hy was omstreeks 14:45 in Tugelastraat, Riversdal, onderweg toe hy ‘n harde slag hoor. Sy voertuig het skielik geruk en toe vir ‘n wyle krag verloor.

“Sowat 400m verder na die slag het ek rook geruik en dadelik gestop. Toe ek die deur oopmaak het die voertuig begin brand. Die Here het my beskerm,” vertel Johan.

Alles het so vinnig gebeur dat Johan nie weet of dit inderdaad weerlig was wat sy voertuig getref het nie, al wat hy weet is dat alles begin verkeerd loop het na die harde donderslag.

‘n Verbygaande motoris wat gesien het wat gebeur, het gestop en die brandweer ontbied.

“In die warboel het ek nie die vrou se naam gekry nie. Maar ek wil haar en haar dogter bedank vir die bystand en hulp,” sê Johan.

Hoewel die brandweer blitsvinnig gereageer het en binne sowat 6 minute op die toneel was, kon die voertuig nie gered word nie.

“Ek kan nie beskryf wat se gevoel dit was om dié ervaring te beleef nie. Ek weet net dit was nie ‘n goeie gevoel nie en ek sal maar vir berading gaan,” sê Johan.

Hy het gelukkig geen fisiese beserings tydens die voorval opgedoen nie, en sy voertuig is verseker.

Indien Johan nie so vinnig opgetree het en betyds uit sy voertuig gekom het nie, kon die storie ‘n baie slegter einde gehad het.

Riaan Potgieter, eienaar van A Assist Towing in Meyerton het foto’s op die toneel geneem en aan Vaalweekblad beskikbaar gestel.

Johan se VW Caddy in vlamme.
Hoewel Midvaal Brandweer vinnig op die toneel was, kon die voertuig nie gered word nie.
Bo en onder: Die wrak van die uitgebrande voertuig.

 
Back to top button