Fondsinsameling vir Wings for Life ʼn sukses
Dit was 'n pretdag by Vaaloewer vir 'n goeie doel. Lees meer...
VAALOEWER. – Saterdag, 16 Desember is ʼn spesiale Kersmark met hope musiek, kos en pret by Vaaloewer gehou.
Alle fondse, van onder andere die lotjie-verkope, is aan Wings for Life se hoof, Margaret Dippenaar oorhandig.

Daar was van vroeg af ʼn groot bedrywigheid by Vaaloewer regoor The Bos Guesthouse & Spa.
Met sanger Charles Shaw as seremoniemeester het alles seepglad en vrolik verloop. Die geur van gebraaide wors het die lug gevul en oral het kinders gespeel.
Deur die loop van die dag het verskeie kunstenaars opgetree, onder meer Charles Rudd, Charles Shaw, Diane James, Susan Oelofse en Daniël James.
Tussendeur is daar lotjies verkoop vir ʼn spesiale bord gevul met allerlei lekkernye.
Die trekking is net na 15:30 gedoen en Carol van Wyk was die gelukkige wenner.

Wings for Life het onder meer kontant, skryfbehoeftes en bottels handontsmettingsmiddels ontvang.
Wings for Life is ‘n skool vir kinders met outisme in Vanderbijlpark. Hier is elke kind spesiaal en word daar met hope liefde, geduld en individuele aandag na hul behoeftes en ontwikkeling omgesien.
Die skool volg die Departement van Onderwys se kurrikulum en het tans 9 klasse, met ʼn tiende wat volgende jaar begin.
Van drie-jariges tot by graad 7’s het hier ʼn veilige omgewing in ʼn skool spesiaal ontwerp om hul te help om na die beste van hul vermoë te ontwikkel.
Alhoewel die skool ʼn staatsubsidie ontvang, is dit minimaal en is die skool afhanklik van donasies vir instandhouding en ander spesiale projekte.
