Local newsNewsNews

Swendelaar glo weer doenig

Sy dien ‘n opgeskorte vonnis vir diefstal uit, maar het intussen glo weer gesteel.

*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (15 Desember 2023) verskyn. Kry ons koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.

VEREENIGING. – ‘n Vrou wat in 2022 ‘n opgeskorte vonnis vir diefstal opgelê is nadat sy glo as werknemer geld van ‘n ingenieursmaatskappy gesteel het, is skynbaar weer besig met haar ou streke terwyl sy haar vonnis uitdien.

Dit is altans wat nou beweer word deur ‘n plaaslike motorhandelaar van Vereeniging by wie sy vroeër vanjaar gewerk het en glo bykans R10 miljoen verduister het.

Joane van die Gevel (volle naam Jacoba Johanna Magretha van de Gevel) is tans besig om die opgeskorte vonnis uit te dien nadat sy in 2022 in die Suid-Gauteng hooggeregshof, wat in Palm Ridge gesit het, aan diefstal skuldig bevind is.

Van de Gevel, wat voorheen vir langer as ‘n dekade vir STAHL Crane Systems as diensbestuurder gewerk het, het glo naby aan ‘n miljoen rand (volgens hofdokumente tussen R940 000 en R961 767.57) by die onderneming gesteel waar sy as een van die “mees betroubare personeellede” gereken was.

Van de Gevel het volgens hofdokumente skuldig gepleit en berou oor haar dade uitgespreek.

Sy is toe tot ses jaar tronkstraf gevonnis, wat in geheel vir ‘n periode van vyf jaar opgeskort is, op die voorwaarde dat sy gedurende die tydperk nie weer aan klagte van bedrog of diefstal skuldig bevind word nie.

Joane van de Gevel met ‘n verklaring waarin sy skynbaar erken dat sy geld by Martin Morgan Motors in Vereeniging, waar sy vroeër vanjaar as boekhouer en sekretaresse gewerk het, verduister het – en dit terwyl sy tans ‘n opgeskorte vonnis uitdien nadat sy in 2022 aan diefstal skuldig bevind is. Foto: Verskaf

Nou blyk dit of sy skaars ‘n paar maande na haar skuldigbevinding ‘n soortgelyke misdaad gepleeg het en moontlik die voorwaardes van haar opgeskorte vonnis oortree het.

Van de Gevel was by Martin Morgan Motors as ‘n sekretaresse/boekhouer werksaam in die tyd wat sy na bewering geld van die onderneming verduister het.

Volgens ‘n verklaring deur mnr. Johannes Jurgens Hattingh (65), die eienaar van Martin Morgan Motors, was Van de Gevel sowat ‘n jaar by die motorhandelaar betrokke.

In die tyd het sy bedrog gepleeg deur gelde uit die onderneming se bankrekening na haar persoonlike bankrekeninge oor te plaas.

Sy het ook versuim om verskeie krediteure van Martin Morgan Motors te betaal.

 Vaalweekblad verneem die saak was op die hofrol geplaas, maar is intussen van die rol afgehaal sodat die staat verdere ondersoek kan doen.

Die saak word volgens die polisie egter nog aktief ondersoek. Kapt. Fikile Funda, ‘n woordvoerder van die polisie in Vereeniging, het by navraag aan Vaalweekblad bevestig dat die nuwe saak teen teen Van de Gevel ondersoek word.

“Die ondersoek duur voort. Ons wag vir twee verslae, dan kan die dossier terug na die hof geneem word.”

Joane van de Gevel. Foto: Facebook

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button