Ma benodig hulp met verlamde Downsindroom seun
VANDERBIJLPARK. - Vaalweekblad het sestien jaar gelede, kort na Kegan Holl se geboorte op 31 Oktober, vir die eerste keer oor die verlamde Downsindroom seun berig.
VANDERBIJLPARK. – “As dokters vir jou sê jou baba sal nie sy tweede verjaarsdag sien nie, breek dit ‘n ouerhart. Maar hulle was verkeerd en ons het vanjaar Kegan se sestiende verjaarsdag gevier.”
Dit is trotse ma Krystle se woorde oor haar seun se vordering.
Kegan was van geboorte baie siek en gereeld in en uit hospitale. Hy was maar net ‘n babatjie toe hy met brongiale longontsteking gediagnoseer is.
Maar dit was nie die ergste skok wat op sy ouers (Krystle en Martin Holl) gewag het nie.
Op die ouderdom van net 18 maande is daar bevind dat Kegan verlam is. Die rede hiervoor is Germ Cell-kanker wat al die kussinkies tussen sy rugwerwels weggevreet het.
Na ‘n lang stryd en vele chemo-behandelings was Kegan uiteindelik kankervry.

Daar is gereeld deur die jare oor sy vordering berig, eers as ‘n skattige klein seuntjie en nou as ‘n tiener.
“Kegan se gesondheid is goed. Hy was die afgelope winter glad nie siek nie,” vertel Krystle.
Kegan moet wel bloedverdunning medikasie drink weens die blokkasie van are in sy ruggraad wat deur die kanker veroorsaak is.
“Ons is so dankbaar dat Cupcakes for Kids with Cancer ons vir die afgelope sewe maande hiermee help. Die koste aan dié medikasie beloop sowat R1 260 per maand,” sê Krystle.
Hierdie uitgawes is maar net ‘n druppel in die emmer.
Kegan moet volwasse doeke dra wat ook maadeliks baie geld kos. Hy dra XL Molly Care indien daar enige skenkings gemaak wil word.
Die gesin se grootste probleem is egter die feit dat hulle huisgebonde is. In die verlede kon Krystle vir Kegan uit sy rolstoel in die kar tel, maar nodeloos om te sê het die jongman nou te swaar geraak om dit te kan doen.

“Ons sal so dankbaar wees as iemand ons kan help met ‘n soort paneel (ramp) sodat ons hom in die paneelwa kan stoot,” vra Krystle.
Daarbenewens moet die binnekant van die voerltuig ook aangepas word om dit moontlik te maak om die hele rolstoel in te stoot.
Sodoende sal hulle Kegan meer na plekke kan neem en sal hy ‘n voller lewe kan geniet.
Indien dit nie gebeur nie, sal Kegan die meeste van die tyd op sy tablet moet speel of telelvisie kyk. Hy is veral mal oor WWE-rofstoei.
Die gesin is nie finansiëel in staat om hierdie veranderinge aan te bring nie. Indien daar enige weldoeners in die gemeenskap is wat kan help om hul lewenskwaliteit te verbeter, sal dit die grootste Kersgeskenk aan hulle wees.
Krystle kan by 065 301 3108 gekontak word.
* Kegan se biologiese pa Martin, is jare gelede in ‘n motorongeluk oorlede. Kegan woon saam met ma Krystle en sy stiefpa (waarvoor hy baie lief is), in die CW5-laekoste behuising.

