Oud-Valie skryf ‘n storm los
Ina Cantoni, oorspronklik van die Vaaldriehoek, het die afgelope sewe jaar reeds 23 boeke gepubliseer met nog twee amper op die rakke. Lees meer...
PRETORIA. – Ina Cantoni (75) se 23ste boek, Die stil kreet, is onlangs vrygestel. Boek nr 24 word in Januarie vrygestel en no 25 is tans in vir redigering.
Sy hoop dat die boek voor haar verjaardag in Maart op die rakke sal wees.
ʼn Merkwaardige prestasie as mens in ag neem dat Ina eers in 2015 die pen opgeneem het.

Sy is op daardie stadium met kanker gediagnoseer en haar bedrywige lewensstyl is ingekort. Sy het toe besluit om vir ʼn kortverhaalwedstryd in te skryf wat sy gewen het.
Van daar af was skryf haar nommer een tydverdryf. In Augustus 2016 is haar eerste boek gepubliseer. Sedertdien het sy nog nooit opgehou skryf nie.
Uit haar pen het al alles van kinderboeke tot by ʼn spanningsroman gevloei. “Die karakters praat met my en die woorde vloei vanself,” vertel sy.
“Ek weet nooit hoe ʼn storie gaan eindig nie, die karakters speel dit self uit.”
Ina is ‘n boorling van die Vaaldriehoek en het in Meyerton skoolgegaan en in Rothdene gebly totdat hulle meer as ʼn dekade gelede na Pretoria verhuis het.
Onder al haar boeke tel die Ridders van die Grootpad as haar gunsteling tot dusver. Die boek handel oor ʼn groep boemelaars wat elkeen hul eie storie het en vertel. “Dis my hart se boek,” vertel sy.
Elkeen van haar boeke is vir haar kosbaar en sy sê elkeen vertel ʼn lewensles. Een van haar boeke, Oor grense heen, is ook nou in Engels vertaal onder die naam, When two worlds collide.
Alhoewel sy nou al geruime tyd in Pretoria woon, sal sy altyd ʼn sagte plek vir die Vaaldriehoek koester.
Sou enige skool of organisasie belangstel om haar te nooi vir ʼn boekbekendstelling of praatjie, kan Ina gekontak word by 076 623 9000.
