Oudpolisiekaptein bring digbundel uit
Die oudpolisiekaptein het onlangs ‘n digbundel vrygestel.
*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (15 Desember 2023) verskyn. Kry ons koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.
VEREENIGING. – Hy het in die 35 jaar wat hy in die Suid-Afrikaanse Polisiediens gewerk het, dikwels in die oë van monsters gekyk.
Dié wedervaringe wat Jestus Fouché, voormalige ondersoekbeampte van die kinderbeskermingseenheid en later polisiekaptein, deurgemaak het vorm die inspirasie vir sy splinternuwe digbundel “Monsters: My Stories Deur Gedigte”.

Die boek is onlangs by die Kerk Tussen die Mielielande net buite Drie Riviere bekendgestel.
Jestus het tydens die bekendstelling self gedigte uit die boek voorgelees en die konteks verduidelik.
Daar is blykbaar reeds planne om die boek in ‘n verhoogproduksie te omskep en die kanse is goed dat die produksie in die nabye toekoms dalk bykunstefeeste soos Aardklop op die planke gebring kan word.
Gedurende Jestus se loopbaan was hy aktief betrokke by polisieondersoeke en misdaadtonele, wat moorde, verkragtings, huis- en besigheidsrowe, asook sake van reeksmoorde en reeksverkragtings insluit.

Jy sal baie makabere moordstories in dié boek aantref, soos byvoorbeeld dié van die vrou wat haar man met ‘n mes vermoor en later sy verbrande liggaam onder ‘n boom langs ‘n spruit gelos het, of die verhaal van die 12-jarige meisie wat deur haar oom verwurg en onder ‘n boom naby haar skool gelos is.
Daar is ook die storie van die onskuldige egpaar wat op hul plaas met doringdraad vasgebind is en tereggestel is, ‘n kinderverkragter en moordenaar wat onwetend die bloed van sy slagoffer op sy tekkies rondgedra het en toe met daardie selfde skoene in Jestus se kantoor ingestap het, ‘n huurmoordenaar wat sonder om te skroom tydens ’n bekentenis kon sê ‘as daar ‘n hit op jou is, is jy al lankal dood. Vir jou voel ek f***l’.
Dan was daar ook die storie van die bobbejaanspanner wat Jestus opgespoor het nadat die verdagte dit gebruik het om ‘n bejaarde egpaar te vermoor en hy dit later verpand het.
Dit is maar net ‘n paar van die gedigte.

Wat die digbundel so skrikwekkend maak is dat dit op ware gru-verhale gebasseer is. Jestus sê hy het in Maart 2020 vir die eerste keer begin om gedigte te skryf as ‘n manier om sin te probeer maak van ‘n breingewas waarmee hy gediagnoseer is.
Sy heel eerste gedig “Ongenooide Gas” handel oor dié einste breingewas. Hy het intussen volkome herstel.
Hy vertel ook dat die skryf van gedigte hom ‘n veilige ruimte gegee het om anders oor die lewe te dink.

Sy eerste digbundel “My Stories Deur Gedigte” het in 2020 die lig gesien en hy het verskeie versoeke ontvang om sy ervarings as ondersoekbeampte in die SAPS met lesers te deel, vandaar is sy nuwe digbundel gebore.
Jestus het vroeër vanjaar op die ouderdom van 55-jaar uit die polisiediens getree en werk as ‘n geregistreerde traumaberader by die Kerk Tussen die Mielielande.
Hy beskik ook oor ‘n diploma in teologie (Unisa, 1993), baccalareusgraad in onderwys (NWU, 1998), meestersgraad in sielkunde (NWU, 2001) en ‘n honneursgraad in kriminologie (Unisa, 2009).
Die boek is by die Kerk Tussen die Mielielande beskikbaar. Skakel Jestus by 083 439 0697 vir meer inligting oor hoe om ‘n eksemplaar van die boek te bekom.

