Local newsNewsNews

MS-lyer se jaar van uitdagings en hoop

Rozaan Steyn is 'n inspirasie vir oud en jonk. Sy vat die lewe met 'n glimlag, geloof en baie deursettingsvermoë aan. Lees meer...

SASOLBURG. –  Rozaan Steyn is bekend as die vrou met veelvuldige sklerose (MS) wat die lewe met oorgawe aanvat.

Sy oefen hard en gaan gereeld op staptogte vir MS-bewusmaking en om hoop te bring vir ander MS-lyers.

2023 was vir haar ʼn jaar van uitdagings, hartseer en pyn, maar ook een van hoop.

Nadat Rozaan se MS haar op 11 November gekniehalter het en sy tydens die Summer Race geval het, was sy vir lank baie siek en haar gemoed af.

Met die valslag het sy haar linker gewrig sleg gebreuk en moes ʼn noodoperasie ondergaan om plate en skroewe in te sit. “Ek was banger vir die operasie en dat ek die gebruik van my hand gaan verloor as vir die MS,” vertel sy ses weke na die groot val.

“Ek is steeds skrikkerig om weer te stap, maar gaan twee keer ʼn week vir fisio en dit gaan al baie beter.”

Die valslag het gekom kort nadat haar vriendin, Rinette, aan MS oorlede is en haar ma, Ansie Steyn ʼn skoueroperasie ondergaan het.

Al die dinge het haar egter nie ondergekry nie en soos altyd het die Steyn-gesin saamgespan en met geloof voortgegaan.

Die jaar het met slegte nuus begin toe Rozaan by haar neuroloog moes hoor dat sy primêre progressiewe MS het.

“Ek het besef my bene raak vinnig lam. Die MS tas veral my linkerkant aan.” Dis toe wat sy haar beroemde wandelstok, Freddie aangevul het met Neelsie – ʼn sitstoeltjie wat sy gebruik tydens staptogte as sy voel sy het ʼn blaaskans nodig.

Een van haar hoogtepunte die jaar was toe sy die Sasolburg marathon in ʼn tyd van 1 uur en 42 minute kon klaar stap. “En dit ten spyte van die feit dat ek ʼn paar maal op Neelsie moes gaan sit,” glimlag sy.

In April het sy ook ʼn staptog saam met die NG Vaalpark gemeente voltooi. Ongelukkig het sy in April ʼn terugslag gehad en in die hospitaal beland. “My dokter was baie kwaai en het vir my gesê ek moet meer rus,” onthou sy.

Ander hoogtepunte sluit in wêreld MS-dag toe die voormalige burgemeester van Metsimaholo, Mnr Zwane die MS-lyers uitgeneem het vir ontbyt en dan die MS-stap wat sy by die DP de Villiers stadion in Sasolburg georganiseer het.

“Dit was baie pret met al die MS-lyers bymekaar en dan het familie ook van oral gekom om die dag te ondersteun.”

Haar volgende groot projek is om vroeg in 2024 ʼn staptog te reël ter nagedagtenis aan MS-lyers wat die stryd verloor het.

“MS is nie maklik nie, maar dis moontlik om steeds voluit te leef. Elkeen hanteer MS anders en al het ek dit self, kan ek vir niemand sê ek weet hoe hul voel nie. Maar, ek kan hoop bring.

“Ons MS-lyers in die Vaal staan saam en is al ʼn hegte vriendekring. Ek het besef daar is baie mense met omgeeharte.”

“Dankie vir elke boodskap en gebed. Ek waardeer elkeen. Dit dra my,” het Rozaan met ʼn groot glimlag en skitter oë laat weet.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button