Plaaslike skrywer onthul skokdade van ‘moordende Maria’s’
Naomi Keyter sê sy was absoluut aangegryp deur die verstommende onthulling dat 'n beduidende groep vroulike oortreders in Suid-Afrika die naam Maria gedeel het.
VANDERBIJLPARK. – In die donkerste hoekies van vergete argiewe skuil daar dikwels die interessantste brokkies geskiedenis. Wie sou byvoorbeeld kon raai dat verskeie Suid-Afrikaanse vroue met die elegante naam, Maria, bloedstollende moorde gepleeg het?
Dít is van die interessante inligting wat in die Vanderbijlparkse skrywer, Naomi Keyter, se splinternuwe historiese roman, ‘The five Maria’s and one Daisy’, belig word.
Dié boek is die tweede uit haar pen en volg op haar debuutwerk, ‘Dooies praat nie… maar papier-kadawers doen’.
Naomi is ‘n voltydse verpleegster by ‘n bekende mediese praktyk in Vanderbijlpark, maar ook ‘n jarelange lid van die Vaaldriehoektak van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika. In haar vrye tyd is die navorsing van familiegeskiedenisse en stambome haar kos.
“Ek is ‘n storieverteller van ware verhale en ek bou stambome. Met die boekskrywery kombineer ek net die twee,” verduidelik sy.
“Ek het ‘The five Maria’s and one Daisy’ geskryf om die stories soos volksverhale oor te vertel. Dit is ou stories maar ons eie volk se verhale, goed of sleg, en moet sover moontlik korrek bewaar word vir ons nageslag. Met hierdie boek het ek al bietjie as skrywer gegroei en dit in die styl van ‘n historiese roman geskryf,” sê sy. “Ek skryf eerlik om die stories oor te vertel, nie vir sensasie of stimulerende ervarings nie.”
Sy het twee jaar aan die boek gewerk en baie ure se navorsing ingesit – gewoonlik saans nadat haar dagtake afgehandel was. “Die argiewe is maar die beste plek vir navorsing, maar ek is ook ‘n aanhanger van historiese kenners soos Karel Schoeman en Mansell George Upham se werke, en vertrou mense met ou vertalings soos Johan van Breda.”
Sy sê sy was absoluut aangegryp deur die verstommende onthulling dat ‘n beduidende groep vroulike oortreders in Suid-Afrika die naam Maria gedeel het, en het net gewéét hul verhale moet in boekvorm vertel word. Sy het besluit om die boek in Engels te skryf omdat dit ‘n internasionale taal is en vir meer mense wat dit interessant sal vind, toeganklik sou wees. Sy is reeds etlike maande besig met navorsingswerk vir haar volgende boek, Poisoners and Psychics.
* ‘The five Maria’s and one Daisy’ is nou in groot A4-formaat teen R380 beskikbaar en ‘n ideale Kersgeskenk vir boekliefhebbers. Bestellings kan geplaas word by naominavorsing@gmail.com of per WhatsApp by 079 563 0088. Neem deel aan dié week se blokraaisel in Vaalweekblad van 15 Desember 2023 en staan ‘n kans om een van die boeke te wen!


