Wind en weer kon nie hengelsukses keer!
SASOLBURG. - Meandro Pieterse wat nog tot onlangs as 'n penkop aan varswater hengel deelgeneem het, het die kans gekry om vir die eerste keer aan die SA Juniors deel te neem.
Meandro Pieterse van die Sasolburg Hap en Kap-hengelklub het aan die SA Junior Varswater Hengelkampioenskappe deelgeneem en die streek se naam hoog gehou.
Die SA Junior Hengelkampioenskappe is van 11 – 13 Desember by Bloemhofdam gehou.
Hy het in die Vrystaatspan in die Premier B-afdeling verteenwoordig en teen spanne van Gauteng Noord, Sentraal Noordwes, Mpumalanga, Noordoos Mpumalanga en Gauteng deelgeneem.
Vrystaat het geseëvier en Meandro het dus sommer met die intrapslag as junior-hengelaar ‘n SA goue medalje verower.
Meandro het beslis sy deel gedoen en 28 vis (26,290kg) tydens die kampioenskappe gevang.

“Dag 1 was ‘n moeilike dag omrede die wedstryd by twee geleenthede gestop moes word weens reën, wind en weerlig. Verskeie hengelaars het groot skade aan hul hengeltoerusting opgedoen,” vertel Leon Meyer, woordvoerder van die Hap en Kap-hengelklub.
Hengelstaanders het omgewaai en hengelkaste en visstokke het in die dam beland.
Meandro het die skade gelukkig vrygespring.

Na afloop van die kampioenskappe is Meandro uitgenooi na die SAVOF proewe wat op 15 en 16 Desember by die dam gehou was.
Die wedstryd moes ook op die eerste dag gestop word weens ‘n weerligstorm.
Meandro het in die twee dae van die proewe 23 vis van sowat 25kg gevang.
Vaalweekblad is saam met die Hap en Kap-hengelklub trots op Meandro se prestasies.
Hengelaars wat by kompeterende hengel betrokke wil raak, kan Leon Meyer by 083 7754 639 kontak.
