Fast Lane Dance Co groet die Vaal, maar dis nie vaarwel…
Die Vaaldriehoek se verlies is Suid-Rand se wins! Baie voorspoed aan Veronique en Teagan met hul verdere planne in Alberton. Ons gaan julle steeds dophou!
Veronique Hall van Fast Lane Dance Company (FLDC) het pas bekend gemaak dat dié dansgeselskap die Vaaldriehoek binnekort groet om na die Suid-Rand te verhuis.
Volgens Veronique, die afgelope drie jaar eienaar, tegniese instrukteur en choreograaf van FLDC, is dié skuif na Alberton noodsaaklik vir beter professionele posisionering van die dansgeselskap.
FLDC het die afgelope jare naam gemaak as ‘n pre-professionele dansgeselskap met ‘n unieke tegniese program wat deur Veronique geskep is vir jong aspirant professionele en mededingende dansers. Tagtig persent van die program fokus op oefentegniek, krag en soepelheid, en 20 persent op dansstyle soos kontemporêr, jazz en ballet.
FLDC het die afgelope jaar aan nege groot kompetisies deelgeneem, onder andere in Welkom, Johannesburg, Pretoria, Durban en die Vaaldriehoek, en feitlik oral met algehele toptoekennings weggestap.
“Ek is verskriklik trots op my dansers. Hulle het vanjaar regtig baie hard geoefen en stunning gevaar, terwyl hulle ook nog met hul skoolwerk moes byhou,” sê Veronique.
Die danser en choreograaf, Tegan Meyer, wat deur Veronique self opgelei is, gaan FLDC nou verder saam met haar as geselskapsdirekteur (company director) bedryf.
Registrasie vir volgende jaar se innames open binnekort en Veronique is vol vertroue dat Vaaldriehoekse dansers wat ernstig is oor kompetisies en professionele werk, steeds by FLDC se nuwe tuiste in Alberton betrokke sal bly.





Besoek hierdie skakel om meer oor Fast Lane Dance Company te lees: https://www.facebook.com/groups/35034794650/user/100063644555327/
