Vories besoek Voortrekkermonument
Die Vories ken hul geskiedenis en die Vaal se Meerkatspan is op 'n missie om van die groot monumente te besoek. Lees meer...
VANDERBIJLPARK. – Drie van die Vaaldriehoek se Voortrekkers, Josh van Zyl, Kelly-Anne du Toit en Cya van Helden het 16 Desember die Voortrekkermonument onder leiding van hul spanoffisier, Alice de Jager besoek.
“My span doen volgende jaar die Monumente-kenteken en deel daarvan is om te weet hoekom ʼn monument opgerig is en wat dit vandag nog beteken vir ons,” verduidelik Alice. ”Ek het hul belowe wie ook al op 16 Desember nog in die dorp is, sal ek Voortrekkermonument toe vat.”

Die drie Vories is dit eens dat dit vir hul besonders was om die monument op Geloftedag te besoek. “Daar was baie mense,” vertel Josh. “En daar het trompette gespeel en almal het saamgesing.”
“Dit was verskriklik warm en ons het baie trappe geklim,” las Cya by. Ten spyte van die groot skare was daar darem volwassenes wat die drie kans gegee het om te kyk hoe die sonlig op die senotaaf val. “Ek het ʼn foto geneem,” vertel Cya.

Hulle antwoord soos een toe Alice hulle vra waaroor gaan Geloftedag. “Die gelowiges het die Here se hulp gevra toe hul aangeval is en het belowe hulle en hul nageslag sal die dag soos ʼn Sabbat vier ter ere van sy Naam sou Hy hulle red.”
Hulle het dit ook geniet om in die nuwe FAK tuin rond te loop en foto’s by die groot olifant standbeelde te neem.
Al drie is dit eens dat hul beslis weer die Voortrekkermonument sal besoek, maar verkieslik nie op 16 Desember nie. Daar was net te veel mense.
Dalk sal hul liefs volgende keer in die winter gaan. Pretoria is hopeloos te warm vir die Valies in die somer.
Alice sê behalwe vir die Voortrekkermonument beoog hul om volgende jaar onder andere Magersfontein te besoek, Fort Klapperkop uit te klim en ʼn draai by die Vrouemonument in Bloemfontein te gaan maak.
