VANDERBIJLPARK. – Terwyl Oukersdag warm op ons neergedaal het in die Vaaldriehoek, het ek bietjie gaan kers opsteek by vriende en familie in ander lande.

Michael Berendt en sy gesin woon nou al 17 jaar in Doha Qatar. Hy het in Vanderbijlpark groot geword en was bekend as een van Laerskool Frikkie Meyer en later Hoërskool Vanderbijlpark se beste naellopers op sy tyd.
Hy het laat weet, sy seun Michael Jnr kuier tans in die Vaaldriehoek by familie, maar hy, sy vrou Marizelle en dogter Sharne vier hierdie jaar Kersfees in Doha.
“Kersdag self gaan gevier word in die Waldorf Astoria hotel waar ons’n Kersete met mede-Suid Afrikaners gaan hou,” het hy laat weet.

Frans en Heike Erasmus, oorspronklik ook van die Vaaldriehoek, is nou al jare deel van die Langenfeld in die weste van Duitsland, naby die Nederlandse grens.
Sy het laat weet dat anders as ander jare, het hul glad nie sneeu nie. “Ons het nou al lank mislike weer. Die paaie is stil, maar die winkels besig. Wens jul almal ʼn baie Geseënde Kersees.”

Miempie Rheeders woon tans in Swede. Daar is alles op die stadium sneeubedek.

“Die afgelope 5-6 weke is Kersmarkte gedurende naweke en dit word met groot jolyt bygewoon en gevier.
“Ons het heelwat sneeu gehad en op die oomblik het ons te doen met Storm Pia. Sy veroorsaak bietjie chaos oor Europa.”
“Ons planne is om net ‘n rustige Kersdag tuis te vier. Ons het nog steeds ‘n vol tradisionele Swede Kersete (het reeds een gehad om seker te maak ons het als wat ons moet hê vir Kersdag),

Oud-PUK Cecilia Breedt woon en werk in Bazel, Switserland. Daar lê die sneeu ook dik en alles is omtower tot ʼn wit wonder wêreld.
“Ek en my kinders gaan oukersaand vier saam met ‘n mengelmoes van vriende. My een seun, Francois en Alejandra kom van Lithuania af, waar hulle studeer. Alejandra is gebore in Nicaragua, maar het groot geword in Zambië en nou studeer sy in Lithuania.

“My ander seun, Hendre se meisie, Defne, is gebore in Turkye, maar het ‘n paar jaar in Finland gewoon, voordat hulle Switzerland toe gekom het. Dit is die eerste keer wat sy Kersfees vier.
“Dan kom my vriend uit Frankryk met sy hond, Boobie. En Deon en Louise, voormalige Suid-Afrikaners wat nou Switserse burgerskap het en Louise se suster uit Suid Afrika wat hier kuier.

“Oukersaandete gaan bestaan uit Franse Champagne, foire gras, skaapboud, hoenderpastei, pampoenkoekies en soet patats. Asook ʼn gebakte warm aartappelgereg, rys en ‘n groenslaai net om die gewete te sus. Nagereg is Crème Brûlée en Switserse sjokolade – baie Switserse sjokolade,”vertel sy.
Presies in watter taal die klompie familie en vriende in Bazel gaan kuier, het sy nie gespesifiseer nie, behalwe dat tussen hulle, hulle agt tale praat.
